Bonusbetaling aan Transnet-pensioenarisse; betoging beplan

18-512 Transnet Klas 18E by Kaalfontein, Gauteng Foto: Kol André Kritzinger, railpictures.net

18-512 Transnet Klas 18E by Kaalfontein, Gauteng Foto: Kol André Kritzinger, railpictures.net

Transnet-pensioenarisse gaan 13de tjeks altesaam ter waarde van R178 miljoen ontvang, het Transnet Dinsdag aangekondig.

“Dit bring die algehele bonusbetalings deur die pensioenfondse en Transnet sedert 2007 op R2.5 miljard te staan,” het Transnet in ʼn verklaring gesê. “Afgetrede Transnet-werknemers wat aan twee van die maatskappy se grootste vaste voordeelpensioenfondse behoort, sal saam die bonusbetaling van R178 miljoen deel.”

Ongeveer 67 000 pensioenarisse wat aan die Transnet Tweede Vaste Voordeelfonds (TSDBF) en die Transnet Subfonds van die Vervoerpensioenfonds (TTPF) behoort, sal teen die einde van April die bonus ontvang. Die bonusbetaling vir elke begunstigde is gelykstaande aan 8.3% van hul jaarlikse individuele voordeel. “Dit is die twee betaling van sy soort in die afgelope ses maande,” aldus die verklaring. “Die twee fondse het in November 2013 ook R178 miljoen in ad hoc-bonusse aan pensioenarisse uitbetaal.”

Die Vryheidsfront Plus, wat besig is met ʼn klasaksie-hofaansoek teen Transnet, het aan Sapa gesê die bonusbetaling sal nie hul hofsaak beïnvloed nie. “Hierdie ad hoc-betalings kom nie van Transnet af nie,” het Anton Alberts, LP vir die VF Plus, gesê. “Wanneer hulle die bonusse uitbetaal, betaal hulle eintlik die pensioenarisse uit die fondse.”

Ongeveer 66 000 pensioenarisse is betrokke in die siviele eis om nagenoeg R79 miljard te verhaal, wat Transnet glo uit hul pensioenfondse geplunder het. Die fondse se belangrikste bates, die skulderkennings ter waarde van R7.7 miljard, wat ʼn jaarlikse inkomste van R1.2 miljard gegenereer het, is glo vroeg in 2001 vir MTN-aandele, wat in daardie stadium as M-Cell bekend gestaan het, “geruil” en was ongeveer R1.4 miljard werd.

Leon Kellerman SC, vir die pensioenarisse, het in die hofdokumente gesê daar is geen aanduiding dat die fondse enige inkomste uit die M-Cell-aandele verdien het nie.

“Ons voer aan die fondse is oor ʼn tydperk van 20 jaar gestroop,” het Alberts gesê. “Dit is bevind deur ʼn aktuariële ondersoek deur die regspan. Dit verteenwoordig ʼn eis van nagenoeg R80 miljard wat die fondse verloor het, rente ingesluit.”

Intussen beplan Alberts ʼn openbare betoging by die Uniegebou op 24 April. “Die verarmde Transnet-pensioenarisse gaan hul kwessie verder aan die groot klok hang deur ‘n openbare protes-aksie by die Uniegebou,” het Alberts in ʼn verklaring gesê. “Tydens die betoging gaan ‘n beswaarskrif aan die president se kantoor ingehandig word.”

Alberts sê die beswaarskrif gaan ‘n beroep doen op die president om in te gryp. Die alternatief is dat die klasaksie-aansoek voortgaan en uiteindelik Transnet dwing om bykans R80 miljard te betaal indien die hofsaak in die guns van die pensioenarisse beslis word. Daar word tans net vir die vasstelling van die hofdatum deur die Noord-Gautengse hooggeregshof gewag.

“Die pensioenarisse verarm by die dag weens ‘n klein jaarlikse verhoging van slegs 2% elke jaar wat in skrille kontras staan met die beloftes wat die Transnetbestuur aan die pensioenarisse gemaak het rakende ‘n menswaardige aftrede,” het hy bygevoeg.

Alle Transnet pensioenarisse en hulle familie en vriende word genooi om deel te neem aan die optog. Belangstellendes kom Donderdag om 08:00 by die Pretoria Kunsmuseum bymekaar op die hoek van Schoeman- en Wesselsstraat.

“Daar sal vanaf die Kunsmuseum na die Uniegebou se grasperk gestap word wat sowat ‘n blok weg is,” het Alberts verduidelik. “Nadat almal op die gras versamel het, sal ‘n afvaardiging opbeweeg na die Uniegebou om die beswaarskrif aan ‘n verteenwoordiger van die presidensie te oorhandig.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ria Maritz ·

Ek haal my hoed af vir die pensioenarisse – JULLE VERDIEN DIT EN NOG MEER !

Dankie ook aan elke persoon wat julle saak dryf.

Babs ·

Baie dankie aan Vryheidsfront Plus wat besig is om namens Transnet Pensioenarisse te veg vir beter maandelikse pensioen uitbetalings. Twee bonusse per jaar is nie ‘n druppel in die emmer van wat hulle pensioenarisse skuld.

marietjie ·

stem saam. Dit is n skreiende skande. My vader het 42 jaar vir die SAS&H gewerk. Niks rerig van sy lewe gehad nie want skofte skofte en skofte moes hy werk om vir sy gesin te sorg. Nou 23 jaar na sy afsterwe is my moeder se pensioen per maand n skokkende R2300.00. Sies transnet dit is n skande, daardie mense was die ouens wat julle gehelp bou het om n veilige en suksesvolle vervoerstelsel te kon bedryf.

Johan van Eck ·

Baie dankie aan die Vryheidsfront Plus ek is een van die Pensioenarisse wat gebuk gaan onder die druk van ‘n 2% verhoging jaarliks wat geen verligting aan ons lewenskostes doen nie. Die skrale Adhoc bonusse help nie veel nie alhoewel dit waardeer word. Miskien kla ek met ‘n witbrood onder die arm aangesien ek baie geseënd is om nog te kan werk en die voorreg het om aan ‘n beter mediese fonds verbonde te wees maar daar is van ons ouer geslag wat swaar gebuk gaan. God seën vir julle poging om ons te help.

Deon ·

17 Jaar se pensioen van my is bloot net weg!! Niemand is bereid om te help nie, prokureurs skram weg.

Marie Meiring ·

Is daar al enige verdere nuus oor bonus uitbetalings vir hierdie jaar en wanneer kan dit verwag word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.