Boodskapper vas oor PPE-bedrog

(Argieffoto: pixabay)

Ayanda Matinise (35), ʼn boodskapper in die kantoor van die LUR vir die departement van gesondheid in die Oos-Kaap, het Donderdag in die Mthatha- gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn ná hy in hegtenis geneem is op aanklag van bedrog en vervalsing. Hy is vrygelaat op borgtog van R1 000.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê Matinise word daarvan beskuldig dat hy op 7 September 2020 homself as direkteur van verskaffing van die departement voorgedoen het. Hy het glo ʼn tendertoekenning aan ʼn diensverskaffer vervals vir die verskaffing van Covid-19- persoonlike beskermingstoerusting (PPE). Die diensverskaffer moes N95-maskers ter waarde van meer as R23,4 miljoen aan die OR Tambo- distriksdepartement van gesondheid verskaf.

“Die diensverskaffer het glo fakture vir betaling ingedien ná die PPE afgelewer is. Die aanskaffingskomitee was nie bewus daarvan dat só tender toegeken is nie en die diensverskaffer is versoek om die tendertoekenningsbrief in te dien. Toe die brief ondersoek is, is daar bevind dat die inhoud vervalste handtekeninge bevat het.”

ʼn Klag is by die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie in Oos-Londen ingedien en Matinise is Donderdag in hegtenis geneem net voor hy in die hof verskyn het. “Die saak is tot 31 Augustus 2021 uitgestel.”

Mgolodela sê dié saak vorm deel van talle sake wat by die Valke ingedien is oor onwettige PPE-tenders ter waarde van tussen R4 miljoen en R260 miljoen sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie aan die begin van 2020. “Hierdie is die tweede inhegtenisneming en nog inhegtenisnemings sal binnekort volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KB ·

Die korrupsie hou net nie op nie…genade, waar gaan dit eindig?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.