Boom keer dat toeris op Tafelberg oor afgrond val

Foto: Mountain Club of SA – Search And Rescue/Facebook

ʼn Duitse toeris is vroeër die week tydens ʼn ingewikkelde reddingsoperasie op Tafelberg gered nadat sy sowat 25 m ver geval het.

Wilderness-soek-en-redding (WSAR) is omstreeks 14:25 Woensdag ontbied nadat die stapper se vriend alarm gemaak het.

Die 47-jarige Duitse toeris het ver geval en in ʼn stryd om lewe en dood vasgeklou aan die voorkant van Tafelberg bokant Devil’s Peak.

Die gebied het steil hellings en roetes wat toue en veiligheidstoerusting verg. Reddingswerkers moes teen die berg uitklim om die beseerde stapper te bereik aangesien die kabelkar of ʼn helikopter weens sterk winde nie gebruik kon word nie.

“Die reddingspan het die man bereik en ná deeglike oorweging is verdere bystand versoek vir ʼn baie tegniese reddingspoging. Die man het verskeie frakture aan sy been, arm en ribbes opgedoen en moontlik sy rug beseer.”

Die lugmag is genader vir die moontlike gebruik van een van sy millitêre helikopters. Die toeris is intussen op die toneel gestabiliseer en op ʼn draagbaar gelaai waarna hy deur ʼn lugmaghelikopter opgepik en later in ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem is vir verdere behandeling.

Minstens 35 reddingswerkers was by die reddingspoging betrokke. Die vriend van die beseerde stapper is deur reddingswerkers van die berg af vergesel.

Die twee stappers het gepoog om langs ʼn minder gebruikte roete teen die berg op te klim toe die terrein te uitdagend vir hulle geraak het.

Hulle het besluit om terug te draai en dieselfde roete gebruik toe die een man gegly en sowat 25 m ver geval het. Hy het op ʼn smal rand teen ʼn enkele boom te lande gekom wat gekeer het dat hy oor die afgrond val.

“Dit het hom beslis van ernstiger beserings, of erger, gered,” het die WSAR gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

wilma ·

Is die beseerde manlik of vroulik? Daar word gepraat van “sy” in die eerste paragraaf en verderaan dat “hy” beserings opgedoen het.

Sakkie ·

Ja nee Wilma ek stem saam is dit nou n sy of n hy? Dit is nou n deurmekaar spul die.

Dennis ·

Dit ks een van daardie persone wat transition maar nog nie presies besluit het waarna toe nie. Nou hou hy maar haar opsies oop.

Anti Da ·

Mense onderskat van die roetes op die berg. Was lankal tyd dat daar behoorlikke waarskuwing kennisgewings aangebring word . Van die roetes is te gevaarlik vir n gewone dag besoeker. Skrik wakker slaapstad.

Vicky ·

Wat maak dit saak of dit ñ man of vrou was? As dit ñ man was sou ek geskree het soos ñ vrou. Die vrees is erg vir albei.

jean ·

Wat neuk die buitelanders altyd met die gevaarlike plekke?…..

Pietie ·

wees bly hul hou van gevaar, anders was hul dalk te bang om in SA te kom kuier :D

Ronel ·

My sussie is ‘n ervare stapper en het ‘n paar keer roetes op Tafelberg gedoen. Sy het ‘n paar jaar gelede gegly en ver geval en baie seer gekry.

Pietie ·

sien… plant meer bome, bome is nie net vir braai, bome red lewens :D

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.