Boomgaard sou ruim erf ná moorde

Zaheera Boomgaard, merkbaar maerder in die hof. (Foto: Susan Puren)

Die beweerde reeksmoordenaar, Zaheera Boomgaard, het in grusame besonderhede aan ʼn prokureur vertel wat die aard van die beserings aan een van die slagoffers was, sonder dat sy ooit die liggaam in die lykshuis gesien het.

Roger Glover, ʼn Johannesburgse prokureur, het Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof getuig dat Boomgaard aan hom voorgegee het dat sy amptelik die liggaam van Lynette Mustapha moes uitken. Hy het egter later vasgestel dat dit nie waar was nie en besef dat Boomgaard slegs die kennis kon hê as sy self op die moordtoneel was. Mustapha se verbrande liggaam is in Augustus 2020 in die veld by De Deur in die Vaaldriehoek gevind.

Glover is kort daarna deur FNB genader om Lynette Mustapha en haar suster, Marlene, se onderskeie testamente te ondersoek omdat die bank vermoed het dat dit vervals is en bedrog gepleeg word. Marlene (67) is in ʼn hospitaal in Johannesburg dood ʼn maand voordat Lynette (72) vermoor is. Volgens Marlene se testament het sy al haar bates aan Lynette bemaak. Boomgaard, ʼn vriendin van die susters, was Lynette se enigste erfgenaam. Albei susters was enkellopend en hulle boedels beloop etlike miljoene rande.

Die saak teen Boomgaard is vroeēr vandeesweek hervat nadat dit in Februarie uitgestel is. Sy staan tereg op drie aanklagte van moord, twee van roof met verswarende omstandighede en meer as 50 van diefstal.

Die Brit Hari Nathvani, van wie se moord Boomgaard ook aangekla word. (Foto: Verskaf)

Boomgaard het verskeie testamente by FNB ingedien; elkeen met ʼn ander datum, het die hof gehoor. Glover het opgemerk dat een van die getuies se naam verskillend op twee van Marlene se testamente gespel is en dat ʼn ander getuie se ID-nommer nie ooreenstem nie, hoewel dit in albei gevalle dieselfde mense was wat geteken het. Een was selfs terugwerkend voor Marlene se afsterwe gedateer hoewel dit eers ná haar dood deur die stelsel geskep is.

Na aanleiding van dié ongerymdhede het Glover gereël dat Boomgaard hom op kantoor spreek. Hy het met haar medewete hul gesprek met sy selfoon opgeneem. Tydens die gesprek het hy haar oor die moord op haar vriendin uitgevra, waarop Boomgaard in die fynste besonderhede vertel het wat sy gesien het toe Lynette Mustapha se lyk tydens die uitkenning aan haar gewys is. Sy het selfs gemeld dat daar nie een nie, maar drie plastieksakke oor Mustapha se kop was en dat haar hande agter haar rug aan haar opgetrekte voete vasgebind was.

Die beskrywing was korrek, maar die hof het vroeēr, tydens die getuienis van Genevieve Antoun, gehoor dat dit sý was wat die liggaam in die Sebokeng-lykshuis uitgeken het. Antoun is die Mustaphas se jonger suster. Die ondersoekbeampte, kapt. Werner van den Bergh, het aan Maroela Media bevestig dat Boomgaard nie Mustapha se lyk uitgeken het nie.

Afgesien van Mustapha se moord word sy ook aangekla van die moord op Hari Nathvani (72), ’n Britse burger wat in Johannesburg by haar gekuier het. Boomgaard se beweerde derde slagoffer was John Naisby (83) van Kaapstad wat in 2012 vermis geraak het terwyl hy na bewering by haar aan huis was. Albei mans het Boomgaard op afspraak-webwerwe ontmoet en duisende rande is nadat hulle vermis is uit hulle bankrekenings onttrek.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Mag sy boet vir al haar dade. Hoe op aanrde kan ‘n normale mens so funksioneer.

Magda G ·

BRING DIE DOODSTRAF TERUG. Gierige mense pleeg moord en het geen gewete. Stuur haar na die ergste tronk en mag sy goed beetgekry word deur daar

SjN ·

Kyk maar, alles draai om geld, nou kry sy niks, slim het sy baas gevang.

Groen-oog ·

Aitsa maar die vrou is woelig. Laat my dink aan daai pragtige jong man wat in Welkom vermoor is deur n tert wat hy op n klets kamer raak geklets is. Die ou man/s het sy op sosiale media raak geklets en hulle gelok en vermoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.