Boomplantmaand lei nuwe seisoen in

Marcus Pawson, Chris Boshoff en Fanus Minnaar. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Boomplantdag, 1 September, en Boomplantmaand waar die hele September aan die plant van bome gewy word, afgeskop deur ’n bosvlier (Nuxia floribundain die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument te plant.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is dié inisiatief deel van AfriForum se ideaal om ’n volhoubare toekoms vir die volgende geslagte te verseker.

’n Studie wat in New York in die VSA gedoen is, bewys dat die toevoeging van ’n bykomende 343 bome per vierkante kilometer die voorkoms van asma met tot 29% verlaag by kinders tussen vier en vyf jaar oud.

“Bome is ’n erflating; dit is ’n belangrike deel van die ekosisteem en ’n natuurlike hulpbron waarsonder niks of niemand in staat sou wees om te oorleef nie. Dit verskaf immers suurstof, skaduwee en voedsel aan mens en dier. Tradisioneel vier mense oor die hele Suid-Afrika Boomplantdag op 1 September, maar vir maksimum impak wy AfriForum die hele Septembermaand aan die plant van bome met 130 van ons takke wat landwyd meer as 1 000 bome gaan plant,” het Boshoff gesê.

Johan Jansen van Vuuren, projek-en-kommunikasiebeampte van die FAK, sê dat hierdie projek nie net ’n groen voetspoor in Suid-Afrika laat nie, maar dat Afrikaans ook opnuut hierdeur geanker word. “Dié bosvlier wat in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin geplant is, bied die geleentheid vir ons nageslag om in die skadu van Afrikaans te ontspan, groei en ontwikkel.”

Vanjaar word daar op twee bome tydens AfriForum-boomplantmaand gefokus:

  • Die algemene boom vir 2017 is die blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata).
  • Die skaars boom vir 2017 is die ebbeboom (Euclea pseudebenus).

Dit is egter nie nodig om dié spesifieke bome te plant nie en mense kan enige boom plant wat inheems tot hul spesifieke gebied is.

“AfriForum wil ons skole, kerke en die gemeenskap aanspoor om landwyd aan Boomplantmaand deel te neem. Dit is ’n nuwe seisoen vir Suid-Afrika, en net soos wat inheemse bome ’n belangrike rol ten opsigte van die land se welstand speel, simboliseer dit ook die land se mense en elkeen se unieke bydrae om van die land ’n sukses te maak sodat almal kan floreer,” het Boshoff afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. ·

Plant bome mense – enige soort INHEEMSES asseblieftog. Kyk net die voordele! Dink aan die oulike voëltjies wat dit sal lok, die skaduwee…ag alles!

Theresa ·

En GROOT asseblief: soos met leerlinglisensies – ONDERRIG asb. mense van alle ouderdomme watter bome om waar te plant. Duisende mense leef in klein erfies en naby mekaar = lys bome met geen aggressiewe wortelstelsel en wat nie binne ‘n volgende buurman se vensters sal groei nie! Lys die “verbode bome” en lys dié geskik vir groot oop areas soos parke en kleineres vir kompakte klein plekkies wat tuine het.

Boom ·

Op Deneysville, Sasolburg, Vanderbijlpark ens. word bome op sypaadjies summier afgesaag dat daar net stompe staan. ‘n Kettingsaag en AK-47 in die verkeerde hande verrig groot skade. Sommiges sien vuurmaakhout en ander die maak van meubels wanneer daar na ‘n boom gekyk word wat gesaag moet word.
Wat ook wonderlik is van ‘n boom is dat hy skadu bied aan die een wat hom afsaag.

John ·

Ja. Ons moet maar begin want binnekort gaan papier skaars word met al die geld wat ons hier sal moet druk om aan alle eise te voldoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.