Boosdoeners brand los op patrollielede

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Twee lede van ʼn Noordwes-gemeenskapspatrollie is in die hospitaal opgeneem nadat ʼn groep gewapende boosdoeners onverwags op hulle losgebrand het.

Kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man (29) en vrou (41) het Donderdag in die Segwaelane-nedersetting gehelp om die gebied te patrolleer toe hulle ʼn groep van vyf mans opgemerk het wat almal balaklavas gedra het.

“Hulle het die groep voorgekeer om te ondervra, toe een van die mans ʼn vuurwapen uitgepluk en op hulle begin skiet het,” het Mokgwabone gesê. “Die man en vrou is albei in die bene gewond en die verdagtes het van die toneel gevlug.” Die patrollielede is na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Mokgwabone soek die polisie sedertdien na die vyf verdagtes, maar hulle is nog nie opgespoor nie. “Enige persoon wat die polisie met inligting oor die saak kan bystaan, word versoek op ao. Mandla Maleka op 083 742 1378 te skakel.”

Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie toe te laat dat die voorval hulle ontmoedig nie. “Sulke voorvalle is daarop gerig om die gemeenskap se stryd teen misdaad te ondermyn, maar die polisie is vasbeslote om hierdie gewetenlose misdadigers vas te trek,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jack ·

wow.. “Boosdoeners” nogals..

Waar is die dae waar ‘n Boosdoener ‘n stoute klein seuntjie was, wat blommetjies gesteel het in iemand anders se erf..

Nee, iemand wat moord pleeg en verkrag, word nou ‘n “BoosDoener” genoem.
Pragtig man.

Willie ·

Die hartseer van die saak is, dat die gemeenskaps lede absoluut geen dekking het nie. Geensins.

Jaco ·

Dit is my probleem ja……..is hoekom ek ontrek het van ons buurtwag patrollie.Nie agv politiek nie maar agv die kriminele wat meer reg het as ons lojale burgers van die land.Wat reëls en regulasies gehoorsaam en respek het vir ander.Dit voel vir my nogal na skuld gevoel omrede ek ontrek het maar glo ek is veiliger by my huis om eerder my gesin op te pas.

Willie ·

Ja Jaco dis moeilik, en dan is daar die versekerings aspek ook… soos jy tereg se, hulle het meer regte, en vry medies… dis hartseer, tot so iets gebeur… dan is jy alleen…

Tiger ·

Wat sou met die patrolliemense gebeur het as hulle op die “boosdoeners” met belaklavas oor hulle gesigte aan losgebrand het en van hulle gewond het tydens die inhegtenisneming?Hulle sou in die tronk gestop gewees het!Nou moet mense nie ontmoedig word nie???
Jaco is ‘n klasieke geval van die werklikheid.Ons buurtwag het heeltemal platgeval nadat daar elke aand patrollies gery was en diefstalle van transformers steeds plaasgevind het.Die mense het net besluit dit help niks en pas nou hul eie plase op.Die morivering is nie meer daar nie.

Jaco Grobler ·

Ek weet nie waar kom julle daaraan dat ‘n boosdoener iemand is wat ‘stout’ is nie. Gaan soek die verklaring van die woord op, asook vertaling in engels as jy wil. Niks fout met die gebruik van die woord in die konteks van die berig nie.

Johannes Meintjes ·

Funksionele sowel as bewese Buurtwag en GPF inisiatiewe is werklik ‘n belangrike plaaslike en selfbestuur opsie in al ons dorpe, stede en plattelandse gebiede. Meer en verbeterde deelname word sterk aangemoedig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.