Boosdoeners slaan toe op Kaapse skole in vakansie

(Argieffoto)

Altesame 38 skole in die Wes-Kaap het voorvalle van vandalisme óf inbraak óf gepoogde inbraak tydens die wintervakansie in Julie aangemeld.

Een van die voorvalle het ook gelei tot die dood van ’n veiligheidswag wat die oortreders gekonfronteer het.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê enigiets van sporttoerusting, toerusting vir tuinmaak en instandhoudingswerk, boumateriaal, beligting en elektriese kabels, IT-toerusting, skryfbehoeftes, kombuistoerusting en kos is by die geraakte skole gebuit.

“Selfs waar niks gesteel is nie, het die misdadigers se pogings om toegang tot skooleiendom te verkry skade aan infrastruktuur aangerig,” sê Kerry Mauchline, woordvoerder van die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer.

Mauchline sê die motief blyk in sommige gevalle blatante vandalisme te wees aangesien die boosdoeners niks gesteel het nie maar eenvoudig alles van meubels tot badkamertoestelle vernietig het.

Mauchline het die dade as “nutteloos en kwaadwillig” ten koste van leerders bestempel.

Die beraamde waarde van die skade moet nog vasgestel word hoewel die Wes-Kaapse onderwysdepartement na raming R10 miljoen in die 2020/21-boekjaar bestee het om skade aan skole in die provinsie te herstel.

Die departement wys daarop dat dié geld bestee kon word aan die ondersteuning van skole.

“Om jou plaaslike skool te beskadig is om jouself in die voet te skiet,” sê Mauchline.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leonard ·

Gebruik Tegnologie, om boosdoeners VAS TE VAT, sodat SKULDIGES kan/MÓÉT vergoed !

Hennie ·

Die departement betaal nie die R 10 miljoen nie, die belastingbetalers doen! So, dis sommer niks nie! Maar daar kom ‘n dag wat die belastingbetalers gatvol gaan raak vir die swartgallige gedrag… Dan moet hulle nie kerm en kla nie!

Cherokee ·

UItgedaag Hennie, vertel ons asseblief wat die belastingbetalers, waarvan ek natuurlik een is, gaan doen wanneer gatvol geraak is. Diè tipe dreigemente is àltyd half, want dit dreig sonder om te verduidelik wat die gevolge gaan wees.

Cherokee ·

En sò word hierdie tipe uitdagings onbeantwoord gelaat. Slegs woorde sonder enige betekenis.

SomeOne ·

en more skree en brand hulle dit wat nog nie verbrand het nie, omdat daar nou weer nie onderrig is nie. ook maar dom

JM ·

Wat de hel gaan met sommige mense in hierdie land aan? Gaan dit nooit ophou nie?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.