Boosdoeners steek Pta-egpaar se huis aan die brand

Die huis in ligte laaie. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar van Pretoria het al hul besittings verloor nadat hul huis in die Kameelfontein-gebied, noordoos van Pretoria, Vrydag onder raaiselagtige omstandighede aan die brand gesteek is.

Alan en Marinda Koppel was nie tuis toe boosdoeners in die vroeë oggendure probeer het om by die grasdakhuis op die kleinhoewe in te breek voordat hulle dit aan die brand gesteek het nie. “Eintlik het ek geen idee wat gebeur het nie. Ons probeer nog sin maak van wat aangaan,” het Marinda Woensdag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê haar 71-jarige pa en Selina Ndlovu, haar huishulp, was in die huis aan die slaap toe ʼn groep boosdoeners omstreeks 04:00 op die kleinhoewe toegeslaan het. Marinda was ten tyde van die voorval in Zambië en Alan was in Polokwane.

Die Koppel-egpaar se huis nadat dit heeltemal in ‘n brand verwoes is. Foto: Verskaf

“Selina het wakker geword van die diefwering in die kombuis wat oopgebreek word, maar skynbaar kon die inbrekers nie in die huis inkom nie. Hulle het toe begin om die huis met klippe te bestook voordat hulle dit aan die brand gesteek het,” het Marinda vertel. Sy het gesê Selina het dadelik die polisie gebel en die polisie kon daarin slaag om haar en Marinda se pa uit die huis te red, voordat die huis heeltemal in die brand verwoes is.

“Dit is ʼn grasdakhuis, so die vlamme het baie vinnig versprei. Alles is verwoes, elke laaste ding wat in die huis was.” Marinda het gesê dit is moeilik om met sekerheid te sê of enigiets uit die huis gesteel is, maar sy twyfel omdat uitgebrande oorblyfsels van televisiestelle en ander waardevolle items steeds in die huis te sien is.

Die Koppel-egpaar se huis nadat dit heeltemal in ‘n brand verwoes is. Foto: Verskaf

Volgens Marinda het sy en haar man wel versekering, maar hulle is onseker wat die implikasies sal wees as die huis opsetlik aan die brand gesteek is. “Ons was besig om die huis te verkoop, maar uiteraard is die koop nou gekanselleer,” het sy gesê.

Marinda en Alan bly intussen by hul dogter. Sy het gesê byna onmiddellik ná die brand het inwoners uit die gemeenskap begin om vir hulle goed aan te ry aangesien hulle alles in die brand verloor het. “Ek het êrens genoem dat daar net twee van ons koffiebekers oorgebly het, toe kom iemand later hier aan met ʼn klomp koffiebekers. Mense het vragte vol goed aangery. Dit is net ongelooflik hoe mense ons ondersteun,” het sy gesê.

Sy het gesê hoewel hulle nou deur ʼn baie moeilike tyd gaan, sy nie sal toelaat dat dit haar onderkry nie. “Ek kan eintlik nog steeds nie glo dit het gebeur nie. Sondag was ʼn aaklige dag en ek was baie ontsteld. Maar ek het besluit ek gaan nie nou verder hieroor treur nie, ek moet nou net hierdeur kom.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van brandstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jolene ·

Agge nee, hoekom altyd die lelik in ander mense raaksien? Sterkte vir die familie, mag God julle styf vashou
Jolene

Ander Annie ·

Daar is baie plakkers in daardie area en eienaars loop gereeld deur onder misdaad. Hulle besluit toe om die huis af te brand. Dankie tog die oom en die huishulp is ongedeerd. Ek is baie jammer vir die skade wat die mense het. Dit is verblydend om te lees van die bure se hulp.

Anita ·

Baie dankie vir die in lifting, verbal oor betogings, veral as die tonnel gesluit word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.