Boosdoeners stel lokval vir motoriste

Die staalplaat met skerp metaalpenne wat Tshwane-metropolisie in die pad gekry het (Foto: Verskaf)

Die Tshwane-metropolisie waarsku motoriste om op die uitkyk te wees vir enige vreemde voorwerpe wat dalk in die pad mag lê. Dit volg nadat die metropolisie Vrydag tydens ʼn patrollie op die N4-snelweg, digby die Diamond Hill-tolhek tussen Pretoria en Bronkhorstspruit, afgekom het op ’n staalplaat met skerp metaalpenne wat in die pad lê.

Volgens die metropolisie word so ʼn plaat met penne deur boosdoeners op die ryvlak geplaas om motoriste te dwing om stil te hou nadat hulle oor die plaat met penne gery het.

“Motoriste word veral snags deur hierdie oortreders aangeval,” sê die metropolisie in ʼn verklaring.

“Teikengebiede is meestal snelweë en stil paaie.”

Nog niemand is in hegtenis geneem wat met die plasing van hierdie voorwerp verbind kan word nie.

“Die metropolisie sal aanhou om paaie, wat moontlike teikens vir hierdie misdadigers kan wees, te patrolleer.”

Enigiemand met meer inligting kan die metropolisie by 012 358 7095/7096 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Riaan ·

Blikskottel, die Metro pote is op hulle stukke nê. So bly hulle waarsku ons nou teen die “NUWE” manier van Hijack/gewapende roof. Die vorige tien miljoen aanmeldings van sulke gevalle was seker net die uitsondering op die reël.

Stefaan ·

Ek sal hulle nie boosdoeners noem nie. Hulle is potensiale moordenaars.

Gert ·

Kan ‘n mens nie ‘n taxi gebruik vir ‘n lokval nie? Sit ‘n klomp polisie manne in en “ry” oor die plaat. As die skurke uitkom wag daar ‘n verassing vir hulle.

Karel Kobus Kruger ·

Gaan nie werk nie, want dan moet een groep polisiemanne op n ander groep polisiemanne skiet.

Bart-Man ·

Polisie is die connections vir papiere, registrasie en border pass.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.