Toe booswigte een van die koperfriespanele van Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria probeer steel het, het hulle nie gereken op die vinnige reaksie van die polisie nie.
’n Groep van die FAK was die week op ’n toer in die Pretoriase middestad toe hulle op die geskende standbeeld afgekom het.
Marné Scholtz, woordvoerder van die FAK, sê volgens ’n ooggetuie het kwaaddoeners kwansuis bo-oor die heining rondom die standbeeld gespring en die fries só probeer steel, maar is op heterdaad betrap en deur die polisie vasgetrek. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.
“Die Pretoria Sentraal-polisiestasie het aan die FAK bevestig dat die friespaneel in veilige bewaring in ’n kluis is,” bevestig Scholtz.
“Die FAK is deur die Tshwane-metroraad genader om te help om die paneel tot sy volle eer te herstel. Die datum van die restourasie sal nog bekendgemaak word.”
Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK, sê die FAK sal enige tyd inspring en help om ons erfenis te bewaar.
“Die feit dat die Tshwane-metroraad ons genader het om die restourasieprojek aan te pak, wys weereens die geloofwaardigheid van ons trotse organisasie. Ons is dankbaar dat die polisie spoedig kon optree en dié kosbare erfenisskat kon red wat waarskynlik vernietig sou word en as skrootmetaal verkoop sou word,” sê Müller.
“Ons kan nie wag om die projek aan te pak nie. Dit gee mens ’n warm gevoel in jou binneste om te weet jy kan ons erfenis bewaar vir die volgende geslag en ons doen dit met trots en oorgawe.”

Frans de Klerk, personeellid van die FAK by die standbeeld waar die plaat gesteel is (Foto: Verskaf)
Daar is vier koperfriespanele van die beeld op Kerkplein en dit is, soos die beeld self, deur Anton van Wouw geskep en die vier panele beeld belangrike gebeure van Paul Kruger se lewe uit, verduidelik Scholtz.
“Die paneel wat gesteel is, is as’t ware ’n uitbeelding van die karakter van Kruger en toon sy heldhaftigheid en diepe omgee. Op die toneel verskyn Kruger by Makapaansgrot, waar hy die liggaam van kommandant Piet Potgieter, die seun van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter, oor sy skouer na buite neem.
“In September 1854 het die Ndebeles ’n Voortrekkergroep onder leiding van AH Potgieter se broer, Hermanus Potgieter, aangeval en saam met hom 28 Voortrekkers uitgemoor. Piet Potgieter, toe kommandant-generaal en Paul Kruger onder hom veldkornet, is tydens ’n strafekspedisie noodlottig gewond. Kruger het onder die spervuur Potgieter se liggaam gaan haal en is self byna in die slag dood. Kruger was toe 29 jaar oud.
“Die voorval het op 18 Julie 2023 plaasgevind.”
James Boale, ’n erfenisspesialis van die Tshwane-metroraad, sê hulle was geskok toe hulle hoor van die diefstal.
“Ons gaan Maandag met die polisie byeenkom en ’n amptelike brief aan hulle oorhandig, sodat die eiendom aan die Tshwane-metroraad oorhandig kan word. Ons is dankbaar dat die polisie die boewe kon vaskeer,” sê Boale.
“Die FAK staan die verwoesting, diefstal en vandalisme van erfenisskatte sterk teë. Die stand van erfenis in Suid-Afrika as geheel is in ’n enorme krisis, maar die vinnige optrede van die polisie in dié geval skep ְ’n tikkie hoop,” sê Scholtz.
Ek het dit al vantevore gesê, en ek sê dit weer: Oom Paul en sy burgers moet van Kerkplein af verwyder word. Dit is net ‘n kwessie van tyd voor die standbeeld onherstelbaar beskadig of vernietig word.
Dis kommerwekkend dat die paneel in ‘n kluis by die SAPS is. Dis die mees onveiligste plek waar dit bewaar kan word
Hulle het geen benul waarvoor die woord “erfenis” staan nie. Wou dit seker verkoop (grond onnosel) of vuur daarop maak om te kook..