Booysens-geweld: ‘Oplossing’ vir behuisingkwessie gevind

bremerstraat-01

Inwoners van die omgewing het Vrydagaand slaags geraak nadat plakkershutte langs ʼn informele nedersetting opgerig is. Foto: TrafficSA/Twitter

Die Tshwane-metroraad het Woensdag ná ʼn vergadering van drie uur besluit om die inwoners wat tydelik na ʼn informele nedersetting langs Booysens in Pretoria-Wes geskuif is, op ʼn ander plek te akkommodeer.

Inwoners van die omgewing het Vrydagaand slaags geraak nadat plakkershutte langs ʼn informele nedersetting opgerig is. Die mense is verlede week vanuit Jeffsville, ʼn informele nedersetting naby Atteridgeville, verskuif toe plakkershutte in die gebied in ʼn sinkgat verdwyn het. Sommige van die families is na die Mlambo-saal in Atteridgeville geneem, maar die metroraad het besluit om 11 families tydelik in die nedersetting langs Booysens te huisves.

Die inwoners van Booysens wou verhoed dat nog strukture op die stuk grond langs Bremerstraat opgerig word en ʼn skermutseling het tussen die groepe uitgebreek waartydens agt mense beseer is. Stephan Harris (28), ʼn verstandelik gestremde man wat ook tydens die onderonsie beseer is, is steeds in ʼn kritieke toestand in Kalafong-hospitaal.

Volgens ʼn familievriend, Manie Hough, is daar sover geen verandering in sy toestand sedert hy vroeg Saterdagoggend in die hospitaal opgeneem is nie. “Hy is agt keer met iets soos ʼn panga of ʼn byltjie gekap. Hy het ernstige skedelbreuk aan die onderkant van sy kop opgedoen en daar lek vog by sy een oor uit. Die dokters hou hom in ʼn mediese koma want hy kry nou die ergste epileptiese toevalle,” het Hough ontsteld gesê.

Elma Nel, raadslid van die omgewing, sê die hele situasie is vir haar baie teleurstellend. “’n Werknemer van die departement van menslike nedersettings moes ʼn baba uit een van die brandende plakkershutte red.

Stephan Harris (28) wat beseer is tydens 'n onderonsie tussen inwoners in Bremerstraat, Pretoria (Best Care-paramedikus Xander Loubser het toestemming van Harris se gesin gekry om 'n wasige foto van hom aan die media te verskaf vir publikasie.)

Stephan Harris (28) wat beseer is tydens ‘n onderonsie tussen inwoners in Bremerstraat, Pretoria (Best Care-paramedikus Xander Loubser het toestemming van Harris se gesin gekry om ‘n wasige foto van hom aan die media te verskaf vir publikasie.)

“Nou lyk dit of die hele omgewing vol rassiste is, maar eintlik is dit emosies wat oorgeloop het omdat die vorige raad leë beloftes aan hierdie inwoners gemaak het en min dienslewering verskaf het,” het Nel gesê.

Sy sê mense is nie dadelik van die Jeffsville-verskuiwing ingelig nie omdat dit ʼn krisis was wat inderhaas verhoed moes word. “Dit was regtig net ʼn tydelike maatreël en die raad het gereken goeie buurmanskap sou aan die orde van die dag wees.” Nel meen swak besluite van die vorige metroraad het egter veroorsaak dat die gemeenskappe mekaar en die munisipaliteit wantrou. Die weste van Pretoria het verlede jaar ook deurgeloop onder verskeie gewelddadige protesaksies.

Nel het gesê sy verneem dat mense wat ses jaar gelede uitgesit is uit Schubartpark in die middestad tydelik na die grond langs Booysens verskuif is. Die metroraad het toe groen vraghouers vir die mense ingerig, maar byna geen ander dienste verskaf nie. Die inwoners van Booysens sê misdaad het ná hierdie verskuiwing in die omgewing begin toeneem en hul eiendomme se waarde het dramaties verlaag.

“Die raad het nou besluit om die 11 tydelike huise wat in Bremerstraat opgerig is, sowel as 30 ander huise in ʼn naburige omgewing, binne die volgende paar weke te skuif na ʼn ander gebied. Ons gaan egter nie in hierdie stadium bekendmaak presies waarheen die mense verskuif word nie,” het Nel gesê.

Volgens Nel is die grond van die informele nedersetting langs Booysens munisipale grond wat nog altyd vir behuising geoormerk is. “Daar sal hoë woonstelblokke hier opgerig word en die tydelike vestings het die bouprojek eintlik nog altyd onnodig teruggehou. Nou kan daar in die nabye toekoms begin word met bouwerk wat ʼn aanwins vir die stad sal wees en werksgeleenthede in ons gebied kan skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frans

Die omgewing word nou die aflaai voorstad om alle loslopende plakkers hier heen te skuif ons infrastruktuur kan nie die massas handteer nie stuur die mense terug waar hulle vporheen gebly het die misdaad en dreigimente teen ons vrouens en meisies is kommerd wekkend stop die plakkery Elma het nog baie te leer sy moet nie die bal paas nie

Johann

So dom asstrant as wat die ANC in sy eensydige “beleide” is; so gevaarlik is dit om nie te sien hoe.die.skelm wetters hulle leë en onmoontlike beloftes aan die.massaa…nou skielik die probleem maak van nuwe administrasies nie. Die voorval in Booysens…begrafplase…ens ens. Kyk mooi hoe boikit hulle dienslewering deur die DA te kaap met ANC gevolglikhede. Volgende is water en krag voorsiening. Insluitende die CHAOS van PREPAID METERS! SUID AFRIKA SE VANDAG….agv die ANC en sy ZUMAIKIES! Gewetenlose selfverrykende Afrika mentaliteit. Stroop wat voor jou oë kom en het nie n gedagte van iets soos beplannung vir.die toekoms nie. Wel…kry… Lees meer »

Tanya

Die probleem was aanvanklik tussen twee groepe van dieselfde ras. Ek weet nie waarom die handjie vol blankes moes gaan amok maak nie aangesien die ander ras mekaar self uitgesorteer het. Nou is iemand in die hospitaal en dit gaan sleg met hom omdat hulle wou inmeng waar mens eerder moes wegbly!

Koos1

Elma, hoekom nie die plek waarheen hulle geskuif gaan word, bekend maak nie? Bang dit gaan weer ‘n geveg afgee? Ek dink dit gaan. Ek wil nie plakkers langs my huis hê nie want my huis se waarde val en ja, misdaad gaan toeneem. FEIT! Hoekom ook nie met die inwoners praat nie, nee hulle moet hul self eers tot geweld wend om gehoor te word! Maar nou verstaan ons ook dat dit al taal is wat in vandag se tye verstaan word deur regerings in SA. O ja, en die inwoners is moeg vir die plakkers. Net ‘n bietjie… Lees meer »

Melt Olckers

Ek glo nie dat die misdaad probleem in Booysens en Hercules omgewing veroorsaak word deur die plakkers nie, ook nie deur die wat daar met behulp van die Stadsraad daar gevestig is nie. Die misdaad probleem is as gevolg van swak Polisie bestuur wat niks doen ivm die dwelm probleem in die gebied nie. Dwelms word deur handelaars van buite die gebied ingebring en die misdaad word veroorsaak deur dwelm misbruikers wat op straat woon en in Van Der Hoffweg maak of hulle motorwagte is.