Borg ʼn Woord – saam met Deon Meyer

Deon Meyer (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Deon Meyer (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Deon Meyer, bekroonde en baie bekende Afrikaanse spanningsverhaalskrywer, is die nuwe beskermheer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ‘n Woord-projek.

“Hierdie projek maak Afrikaanssprekendes weer eens bewus van die mooiheid van Afrikaans,” sê dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT. “Mense dink na oor woorde wat vir hulle besondere betekenis het en dan borg hulle daardie woorde.”

Deon spoor almal aan om deel te neem: “Genoeg geflankeer. Haak af met Afrikaans en borg ʼn woord!”

Deelnemers kan enige Afrikaanse woord borg vir R100 en elke deelnemer ontvang ook ‘n sertifikaat van die WAT met sy naam en die woord of woorde wat hy geborg het – dit is ook ʼn ideale geskenk vir iemand wat lief is vir Afrikaans!

Borgskappe van R5 000 per woord is eksklusief en niemand anders mag daardie woord(e) borg nie. Teen R100 kan meer as een persoon dieselfde woord borg, maar elkeen kry ‘n sertifikaat met sy naam daarby.

“Die WAT word 90 jaar oud in 2016 en vier dit onder andere met ‘n Borg ‘n Woord-bonusjaar,” verduidelik Botha. “Twee deelnemers kan elkeen ‘n Sanlamprys van R25 000 wen. Elkeen wat ‘n woord borg, kry vir ses maande gratis toegang tot die aanlyn WAT en indien jy ‘n woord eksklusief borg vir R5 000 kry jy vyf jaar gratis toegang.”

Borg ʼn Woord is een van die WAT se lewensare aangesien die staatsubsidie vanaf 2004 drasties ingekort is. Tans verkry die WAT bykans 70% van sy jaarlikse inkomste uit donasies en projekte soos Borg ʼn Woord. Die jaarlikse begroting is R5 miljoen terwyl die staatsubsidie R1,6 miljoen bedra.

As omvattende verklarende woordeboek is dit die WAT se taak om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang vas te vang. “Indien die WAT nie voltooi word nie, sal die Afrikaanse woordeskat nooit volledig opgeteken word nie,” het Botha bygevoeg. “Dis egter ook vir die ander amptelike tale belangrik dat die WAT produktief en dinamies bly: rondom 2001 is daar ʼn woordeboekeenheid vir elkeen van die amptelike tale gevestig en die WAT het in samewerking met die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad leksikograwe vir daardie eenhede opgelei. Hierdie opleiding gaan voort en leksikograwe uit ander Afrikalande soos Angola, Gaboen, Malawi, Namibië en Zimbabwe ontvang ook opleiding by die WAT.”

Deon het as Beskermheer van Borg ʼn Woord reeds die voorbeeld gestel en die woord spanning eksklusief geborg vir R5 000.

“Mense borg graag die naam van hulle beroep, soos rekenmeester, wynmaker, argitek, padmaker, prokureur, siviele ingenieur, advokaat, ensovoorts eksklusief,” het Botha gesê. “Hulle borg ook woorde as verjaardag- of kersgeskenke vir geliefdes of vriende. Die woorde beskryf dan gewoonlik ʼn eienskap van daardie persoon soos liefdevol of vasberade, of dit is woorde wat daardie persoon graag gebruik of soms is dit ʼn troetelwoord wat die geliefde teenoor daardie persoon gebruik.”

ʼn Paar bekende persone het reeds die volgende woorde geborg:

Koos Bekker borg skon vir sy ma en plaasboer, douvoordag en noustrop vir sy pa, Cor. Sy ma, Delene, borg kwaggakaiing (koeksister), kiesvleis (wangvleis van gebakte skaapkop) en goewermentsboontjie (sopboon).
Louis von Zeuner borg pypkan en vaskop eksklusief.
Marita van der Vyfer borg kardoes
Steve Booysen borg waardes eksklusief
Steve Hofmeyr borg pampoen en toeka eksklusief
Prof TT Cloete borg tiekie
Erna Meaker en Edwin Hertzog borg hertzoggie gesamentlik eksklusief.
Jan Braai borg braai
Gareth Cliff borg uitsaaikorporasie
Brand Pretorius borg dienende leierskap
Jannie en Deidre Mouton borg o.a. liewenheerbesie (ladybird)
Riaan Cruywagen borg dinges, pennelekker, woordsmid, kekkelbek, dataproppie. Hy het verlede jaar in ons Nuutskeppingskompetisie R500 met sy inskrywing dataproppie gewen en hy ploeg dit nou terug met hierdie borgskappe.

Klik HIER om jou eie woord te borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Nou-ja waar is al die wat altyd kla dat Afrikaans aan die agterspeen suig en dat die ANC niks vir die taal voel/doen, ens ens – hier is jul kans om te, soos die Engelsman sê “put your money where your mouth is”! Laat ons sien! Ek dink nog watter lekkerste woord ek wil borg – daar is so baie wat kan rol in my mond!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.