Borgtog laat vaar ná moord op ma, dogter

Altecia Kortje (28) en haar sewejarige dogtertjie Raynecia.

Ryan Smith, wat beskuldig word van die moord op ʼn Kaapstadse ma en haar dogtertjie vroeër vandeesmaand, het sy aansoek om borgtog laat vaar.

Altecia Kortje (28) en haar sewejarige dogtertjie, Raynecia, se liggame is op 12 Junie in ʼn huis in Belhar ontdek. Altecia het verskeie steekwonde gehad en Raynecia se liggaam is op die badkamervloer aangetref. Sy is glo ook doodgesteek.

Smith is kort daarna vir die moorde in hegtenis geneem.

Hy het Maandag weer in die Bellville-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, gesê. Die saak is vantevore uitgestel sodat Smith se adres nagegaan kon word.

Ntabazalila het gesê Smith se adres is bevestig, maar hy het gister sy aansoek om borgtog laat vaar.

Die saak teen hom is tot 25 September vir verdere ondersoek uitgestel.

Luidens berigte het Kortje ʼn week voor haar dood vergeefs probeer om ʼn beskermingsbevel te bekom omdat sy glo gevrees het vir haar lewe. Weens die Covid-19-regulasies is sy glo by ʼn landdroshof weggewys. Die Openbare Beskermer het intussen met ʼn ondersoek na dié bewering begin.

Kortje was ook een van verskeie vroue na wie pres. Cyril Ramaphosa vroeër vandeesmaand by name in ʼn regstreekse toespraak verwys het toe hy die vlaag moorde op vroue veroordeel het. “Hulle is nie net statistieke nie. Hulle het name en gesinne en vriende,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa het ook die versekering gegee dat Suid-Afrika se strafregstelsel geslagsgebaseerde geweld sal bestry en dat meer inhegtenisnemings en vervolgings verwag kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Misdade teen vrouens en kinders sal nie geduld word nie ? Hul bloed sit aan die hande van diegene wat veronderstel was om hulle te beskerm . Ploerte!

Michael

Die regering sal nooit die dood straf terug bring vir sulke dade nie want dan gaan hul stemme verloor en dit is belangriker as moort op alle mense wit en swart.

Misky

Ook maar goed, want hy weet wat die gemeenskap met hom aan die buitekant sou doen. Dink die opsie moet oorweeg word en baie minder misdadigers sal ons belasting geld op teer

Herpiet

Die samelewing het uiters sleg, siek, doellose mense. Daar is geen verskoning vir sy optrede nie. Maar sy dag kom.

ES

Jy moet darem maar nie lekker in jou kop wees as jy ‘n weerlose kind met ‘n mes doodsteek nie. Afgrysend!