Borgtog toegestaan aan verdagtes ná gyseldrama by kerk

Foto: SAPD

ʼn Hof in Westonaria in Gauteng het borgtog toegestaan aan die 42 verdagtes wat verbind word met verlede maand se aanval en gyselaarsdrama by die International Pentecostal Holiness Church in Zuurbekom aan die Wes-Rand.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die verdagtes is elkeen op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Van die verdagtes sluit onder andere ook lede van die polisie, die weermag, die Johannesburgse metropolisie en amptenare van die departement van korrektiewe dienste in.

Die verdagtes staan tereg op vyf aanklagte van moord, 36 aanklagte van poging tot moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, huisbraak, aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging asook die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Volgens Mjonondwane het landdros Gavin Pillay getuienis aangehoor wat aangebied is deur middel van beëdigde verklarings waarin die persoonlike omstandighede van elkeen van die beskuldigdes uiteengesit is, asook redes waarom hulle op borgtog vrygelaat moes word.

Van die vuurwapens waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Die vervolging het borgtog teengestaan ​​en aangevoer dat die verdagtes ʼn gevaar vir die samelewing inhou. Die vervolging het verder aangevoer dat die ondersoek moontlik in gevaar gestel kan word, aangesien die staatsgetuie aan die verdagtes bekend is.

Volgens Mjonondwane het die hof egter bevind dat die verdagtes geskikte kandidate is vir borgtog onder die voorwaardes dat die verdagtes hul paspoorte indien, nie met die staatsgetuies inmeng of die betrokke kerk betree nie.

Die saak is nou uitgestel tot 24 November vir verdere ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep gewapendes het in Julie op die International Pentecostal Holiness Church toegesak en mense aangeval.

Vier mense is geskiet en hul liggame is in ʼn uitgebrande motor gevind. ʼn Veiligheidswag wat glo op die voorval gereageer het, is ook in sy motor doodgeskiet. Mans, vroue en kinders wat glo op die perseel woon, is tydens die aanval as gyselaars geneem.

Die moontlikheid word ondersoek dat die aanval verband hou met ʼn vete tussen verskillende partye in die kerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Sou daar R5000 borg vasgestel wees as dit wit mense was ? Toe , praat lammola !

david

Ek word herinner aan ‘n geval in Brits waar ‘n blanke aangeklaagde vir 10 maande borgtog geweier was op sterkte van ‘n bewering dat hy ‘n sekere iemand sou geskiet het……daardie iemand is nou nog soek…en die Witman was sy vryheid kwyt vir tien maande…..!
Hoeveel stelle reels geld in SA vandag….?

Marius

Kul jou hier en kul jou daar , daar is almal weg . Wat is die kans dat hulle nie gaan verdwyn nie ?

Androclus

Hoekom borg?

Anel

Misdadigers meer vryheid as wetsgehoorsame burgers. Die arme slagoffers gaan nou die hele tyd oor hul skouer moet loer. Ek laat my nie vertel dat hulle nie geïntimideer gaan word nie. Die spul gaan almal loskom en weer aangestel word in hoër poste. R 5000.00, dis belaglik!!!