Borgtog toegestaan in goud-saak

Argieffoto ter illustrasie Foto: Agnico-Eagle Mines Limited via Wikimedia Commons

Argieffoto ter illustrasie Foto: Agnico-Eagle Mines Limited via Wikimedia Commons

Vyf mans wat tereg staan op aanklag van die onwettige besit van goud se aansoek om borgtog is Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord toegestaan.

Willem Pretorius is vrygelaat op borgtog van R50 000, Arnold Wilke van Zimbabwe is vrygelaat op borgtog van R100 000, en George Roodt, Pieter Roodt en Gerald Meyer is elk vrygelaat op borgtog van R30 000.

ʼn Sesde man, Matthys du Preez, is verlede week vrygelaat op borgtog van R5 000.

Die saak is uitgestel tot 18 Februarie 2015 en Du Preez se borgtog is verleng.

Die hof het gehoor die mans het vir ʼn kontant in transito-maatskappy gewerk. Advokaat Johann Kok, vir die beskuldigdes, het aan die hof gesê die staat se voorstel van R50 000 borgtog is akademies. Hy het gesê die hof moet in ag neem dat die kontant in transito-maatskappy vir die beskuldigdes se borgtog sal betaal en die maatskappy moet ook in Februarie 2015 belasting betaal. “Die hof moet ʼn verminderde bedrag oorweeg. Daar is geen vlugrisiko nie. Ek maan die hof om ʼn bedrag van R40 000 of R35 000 te oorweeg,” het hy gesê.

Kok het gesê die mans is in hegtenis geneem toe hulle goud vervoer het wat nou in die besit is van die polisie. Die mans is vroeër vandeesmaand by die Pumulani-tolplaza op die N1 na Pretoria in hegtenis geneem nadat die Valke hulle glo met 50 kg goud ter waarde van R23 miljoen betrap het. Daar is ook beslag gelê op vyf vuurwapens.

Wilke het deur sy prokureur aan die hof gesê hy besit ondernemings in Zimbabwe en Suid-Afrika.

Die staat het nie die aansoek om borgtog teengestaan nie en het Wilke ook nie versoek om sy paspoort in te handig nie.

Lees vorige berigte oor die goud-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.