Borgtog vir Agrizzi

Angelo Agrizzi, voormalige hoof van Bosasa, tydens ‘n vroeëre hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/ANA)

Die hooggeregshof in Johannesburg het ʼn vroeëre besluit om Angelo Agrizzi, voormalige hoof van die omstrede maatskappy Bosasa, se aansoek om borgtog van die hand te wys, omgekeer.

Die staat het vandeesweek aangevoer daar is sterk gronde om Agrizzi agter tralies te hou en het hom as ʼn vlugrisiko bestempel. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Agrizzi gelieg oor die waarde van sy roerende bates en het hy ook nie sy bande met Italië verklaar nie.

Regter Ratha Mokgoatlheng het streng voorwaardes aan Agrizzi se borgtog gekoppel. Dit sluit in dat die borgtog die volle waarde van sy eiendom – ook dié in Italië – beslaan. Hy moet die titelakte van die eiendom aan die staat oorteken, dadelik sy paspoort inhandig en alle bates wat aan hom en sy vrou behoort, aan die staat verklaar.

Indien hy dit nie doen nie, sal die borgtog verbeur word.

Regter Ratha Mokgoatlheng het streng voorwaardes aan Agrizzi se borgtog gekoppel. (Foto: NVG)

Sindisiwe Twala, woordvoerder van die NVG, het ná afloop van die hofverrigtinge gesê die staat is nie teleurgesteld met die uitspraak nie.

“Waaroor ons bly is, is dat ons nou waarborge het, naamlik die titelakte van die Italiaanse eiendom wat hy besit,” het sy gesê.

Net hierdie eiendom beloop etlike miljoene rande.

Twala sê Agrizzi het verlede jaar aangevoer hy besit bates van sowat R16 miljoen, terwyl die NVG se eie ondersoek daarna bevind het hy besit inderwaarheid bates van meer as R35 miljoen. Twala sê Agrizzi het vantevore ook nie bekend gemaak dat hy geld landuit neem nie.

Agrizzi was in aanhouding sedert die Palm Ridge-handelshof op 14 Oktober sy aansoek om borgtog van die hand gewys het. Hy is kort daarna in ʼn hospitaal opgeneem nadat hy volgens sy regspan ʼn hartaanval gehad het.

Nog een van sy borgtogvoorwaardes is dat hy een keer per week by die polisie moet aanmeld nadat hy uit die hospitaal ontslaan word.

Agrizzi staan saam met die oud-ANC-LP Vincent Smith tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Hy het Smith glo omgekoop om te help verseker Bosasa kry winsgewende staatstenders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie J ·

Ek sukkel om die kloutjie by die oor te kry. Die ou het aan Zondo & kie erken en presies verduidelik hoe hy vir Smith omkoopgeld namens Bosasa betaal het. Daarna is hy huistoe en het meer as genoeg tyd gehad om te vlug. Toe op n dag lank daarna op treffende Hollywood styl word hy gearresteer en sowaar borgtog geweier. Toe vat dit weer n Regter om logika te laat seevier. As dit is hoe die staat en sy gepeupel met fluitjieblasers van die Zondo fiasco gaan handel, sien ek swarigheid vir hulle.
EK IS BLY DAT JY BORGTOG GEKRY HET EN EK WENS JOU VERBETERDE GESONDHEID TOE en as jy tog besluit om die banarepubliek se stof van jou skoene af te vee, go for it.

JohanR ·

Is een van daai streng voorwaardes dat hy nie volgestopte Louis Vetton handsakke aan ANC lede mag gee nie? Is soe ‘n teleurstelling dat Gavin Watson vermoor is! Angelo Agrizzi moet versigtig wees dat die selfde nie met hom gebeur nie.

antieke antie ·

ja ek stem saam …geskenke klink my word maklik verruil met die regeringslede…. en is Gavin wel dood of was dit ‘staged’ …. daar is reeds stories hy lewe op n ander plek

antieke antie ·

as alles oorgeteken word aan die staat …wie se eiendom word dit …. wie in die staat gaan dit kry … nadat seker goed gestrip word van alle bewegende waardevolle artikels…. jis kan mens enige staats amptenare vertrou met al daai besittings …. klink my erens gaan mense geskenke sommer toe-eien

Jacobus ·

Daar gaan ons alweer. Fluitjie blaser sit in die pomp en plunderaars en korruptes spandeer lustig aan hulle miljoene! En Siril kruip weg (skies self isoleer) in sy luukse silo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.