Borgtog vir Clover-twee geweier

Die Tembisa-landdroshof. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die borgtogaansoek van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Terence Tegg by ʼn Clover-aanleg in Johannesburg vermoor en JJ Cassanga erg aangerand het, is Dinsdag van die hand gewys.

Nog ʼn verdagte in die saak is boonop Dinsdagoggend in hegtenis geneem, terwyl die aanvanklike verdagtes in die Thembisa-landdroshof verskyn het.

Nkosinathi Mbatha en Mohale Shokane is reeds in Februarie in hegtenis geneem in verband met die aanvalle wat op veiligheidswagte by die Clover-aanleg uitgevoer is.

Die hof het beslis dat Mbatha en Shokane nie kon bewys dat daar buitengewone omstandighede is wat hul vrylating op borgtog kan regverdig nie.

Landdros Karien Brits het boonop gesê dat dit nie in belang van geregtigheid is dat hierdie aansoek toegestaan word nie, aangesien die staat wel kon bewys dat daar ʼn prima facie-saak teen die beskuldigdes is.

Gegewe die bewyse wat die afgelope paar weke aan die hof voorgehou is, voer die landdros aan dat die veiligheid van die staat se getuienis nie verseker kan word nie en dat Mbatha én Shokane dalk vlugrisiko’s kan wees.

Brits het ook in haar uitspraak daarop gelet dat die hof nie anders kan as om te oorweeg waarom die beskuldigdes nié wou hê dat die hof die beeldmateriaal van die betrokke voorvalle moes besigtig nie. Dit volg nadat die verdedigingspan tydens die borgaansoek aanvanklik aangedui het dat hulle die beeldmateriaal in die hof wil wys, maar ná konsultasie met hul kliënte hierdie aansoek onttrek het.

Die twee beskuldigdes sal nou in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning.

Ondersteuners van die beskuldigdes was duidelik ontsteld oor die uitspraak en ʼn vrou, vermoedelik familie van een van die beskuldigdes, het hardop gehuil terwyl sy uit die hof gestap het.

Bebbington woon die hofverrigtinge van die beskuldigdes by. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Vriende en familie van die slagoffers het egter die uitspraak verwelkom. Tegg se verloofde, Michelle Bebbington, het ná die uitspraak haar verligting oor die uitkoms van die aansoek uitgespreek.

Bebbington het tot dusver elke hofverskyning bygewoon. Sy, die Cassanga-familie en die polisie word tans deur die burgerregteorganisasie AfriForum bygestaan.

“Ek is verlig dat daar eindelik ʼn besluit geneem is [oor die borgtogaansoek]. Ek en die res van Terence se geliefdes is verlig dat ʼn uitkoms bereik is,” het ʼn emosionele Bebbington aan Maroela Media gesê.

Bebbington glo dat die verhoor ʼn dooiepunt sou bereik indien die beskuldigdes wel op borgtog vrygelaat is.

“Ek is net bly dat hulle in aanhouding sal bly tot die volgende hofverskyning.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hy is tevrede met die uitkoms van die aansoek en meen geregtigheid het in hierdie geval geskied.

Kyk wat het Nel nog te sê oor Dinsdag se uitspraak:

Die hoofondersoekbeampte in die saak, kapt. Robert George Seckle, het ná die uitspraak aan Maroela Media bevestig dat die polisie Dinsdagoggend nog ʼn verdagte in verband met Tegg se moord en Cassanga se aanranding in hegtenis geneem het.

Dié verdagte sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn.

“Dit is fantastiese nuus dat die polisie nog ʼn verdagte in hegtenis geneem het – dit wys dat die ondersoek voortgaan en dat kapt. Seckle alles moontlik doen om die skuldiges vas te trek. Hierdie inhegtenisneming is goeie nuus vir ons regstelsel,” het Bebbington gesê.

“Ek glo en hoop dat die polisie binnekort nog verdagtes sal vastrek.”

Bebbington beplan om die jongste verdagte se hofverskynings ook by te woon.

Mbatha en Shokane se saak is tot 23 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Barend ·

Hy werk vir Afriforum. Hulle het ‘n fonds daarvoor waar jy bydraes kan maak.

lollapot ·

Hoe huil jy oor n gewetenlose monster, wat in n pak beweeg en iemand genadeloos doodslaan? Kaptein George, baie dankie! Hoop jy kry spoedige al jou moordenaars.

Christa ·

Is goed so. Laat almal wat ñ aandeel het in die aanranding en moord agter slot en grendel gesit word!

Hasie ·

Om hardop te huil en aandag te soek is Sooo holrug gery …kry nie veel reg nie…mense sweep die massas op en as dit by boontjie kry sy loontjie kom , dan word daar Nou hardop gehuil …snaaks dat die rssekaart nog nie gespeel is nie …

pieter ·

Die vuilgoed wat mense dood maak moet glad nie borg kry nie , hulle verdien nie vryheid nie , laat hulle in die tronk bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.