Borgtog vir drie wat KPMG glo bedrieg

Borgtog van R50 000 is toegestaan aan ʼn voormalige KPMG-werker en twee van sy vermeende medepligtiges wat die maatskappy glo uit sowat R16,5 miljoen geswendel het.

Fidelis Moema is op 2 April aangekeer en staan tereg op aanklag van diefstal, bedrog en geldwassery. Moema, ʼn beursspesialis, word daarvan beskuldig dat hy geld wat aan beursontvangers toegewys is, in bankrekeninge van individue of maatskappye inbetaal het en dat dié geld daarna na sy persoonlike bankrekening oorgeplaas is.

Die staat voer aan tussen September 2021 en November 2022 het Lebogang Sigubudu, ʼn direkteur by Black Aint Suppliers en ʼn Tshwane-metropolisiebeampte, verskeie direkte betalings van KPMG ontvang. Dit het R657 000 beloop en hiervan is R598 000 in Moema se persoonlike bankrekening inbetaal.

Trevor Machimana, ʼn direkteur by Business Dynamics Synergies, het glo meer as R1 miljoen op soortgelyke wyse van KPMG ontvang en het glo R880 000 hiervan in Moema se rekening inbetaal.

Sigubudu en Machimana is albei vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem. Hulle het vandeesweek saam met Moema in die beskuldigdebank van die Palm Rigde-landdroshof verskyn.

Borgtog is Vrydag aan al drie toegestaan. Moema, Sigubudu en Machimana staan tereg op honderde aanklagte van bedrog en geldwassery. Moema staan ook tereg op ʼn bykomende aanklag van diefstal.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê borgtog is nie veronderstel om ʼn strafmaatreël te wees nie, maar om die beskuldigdes se bywoning van die hofsaak te verseker. Die NVG is ook tevrede met die hoër borgtogbedrag wat die hof bepaal het.

Daar word intussen na nog vermeende betrokkenes gesoek en die ondersoek duur voort.

KPMG het vroeër gesê goedgekeurde beursontvangers is nie geraak nie en die maatskappy het al sy verpligtinge in hierdie verband nagekom. Die KPMG-program gaan voort om studente te help. “Die teleurstellendste van hierdie situasie is die verlore kans om bykomende studente te help,” het die maatskappy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.