Borgtog vir Dudu Myeni ná inhegtenisneming

Dudu Myeni en Trevor Mathenjwa Vrydag saam in die beskuldigdebank. (Foto: Verskaf)

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), en Trevor Mathenjwa, voormalige direkteur van Sondolo IT, is Vrydagoggend in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Myeni en Mathenjwa het ’n kort rukkie gelede in die landdroshof in Richardsbaai verskyn waar hulle op borgtog van R10 000 elk vrygelaat is.

Sindisiwe Twala, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die aanklagte teen Myeni en Mathenjwa hou verband met korrupsie van R300 000 by Bosasa.

Twala sê Myeni was gedurende haar ampstermyn as voorsitter van die SAL verplig om haar belange kragtens die SAL se beleid vir botsing van belange bekend te maak, maar het na bewering versuim om dit te doen.

Myeni word nou van korrupsie aangekla nadat sy na bewering geld ontvang het van Sondolo IT, ’n filiaal van Bosasa. Mathenjwa het na bewering hierdie fondse vir Myeni aangebied.

Myeni word daarvan beskuldig dat sy van Mei 2014 tot Maart 2015 met die geld sekuriteitsopgraderings van R200 000 aan haar eiendom in Richardsbaai gedoen het.

Sy word ook daarvan beskuldig dat sy en mense na aan haar danksy Bosasa in hierdie tyd by meer as R107 000 se hotelverblyf en reiskoste gebaat het. Die reise is volgens die OD deur Blake Travels gefasiliteer.

Myeni en Mathenjwa moet weer in November in die hof verskyn.

Myeni is ʼn noue bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma en is in Mei 2020 tot misdadige direkteur verklaar. Sy word daarvan beskuldig dat sy bygedra het om die SAL op sy knieë te dwing en die Zondo-kommissie na staatskaping het aanbeveel dat sy vir moontlike vervolging verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Siestog, kry die goed amper jammer met die koppe wat so neerbuig.

Christo ·

Is die ‘n joke? Daar is baie groter sake waarvan sy aangekla kan word. Die 300k gaan haar net ‘n klap op die hand gee.

Loun ·

Altyd Kop onderstebo….. dis wat gebeur is jy weet jou tyd het gekom.
So vang slim toe sy baas…

Francois ·

Lekker. Gaan net liggies op die vingers geraps word en is seker klaar n kabinetspos aangebied vir volgende jaar

Shakespeare ·

Die “medêm” moes al laaaankal in die tronk gewees het. Stoere Zumaliet.

Lesly ·

R10 000 borg is soos R5 vir die man op straat. Mies ten minste R1 miljoen wees

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.