Borgtog vir Durban Day-beskuldigdes

Montreal King wat op 6 September tydens ECR se Durban Day-vieringe dood is (Foto: risingsunoverport.co.za)

Montreal King wat op 6 September tydens ECR se Durban Day-vieringe dood is (Foto: risingsunoverport.co.za)

Twee jeugdiges wat daarvan beskuldig word dat hulle Montreal King (19) tydens ʼn konsert in Durban met ʼn mes doodgesteek het, is Donderdag in die Durbanse landdroshof vrygelaat op borgtog.

Landdros Vanitha Armu het Tristan Augustus en Radley Warner vrygelaat op borgtog van R3 500 elk en hulle aangesê om nie met enige van die ooggetuies kontak te maak nie.

Die hof het Donderdag tydens die aansoek om borgtog gehoor Augustus, een van die twee jong mans wat daarvan beskuldig word dat hulle King met ʼn skerp voorwerp doodgesteek het, is verlede jaar uit sy skool geskors in verband met ʼn messtekery. Sy slagoffer was glo te bang om aanklagte aanhangig te maak. Konstabel Nazareen Govender, die ondersoekbeampte, het tydens Augustus en Warner se hofverskyning gesê die slagoffer het aan die polisie bevestig hy was te bang om ʼn saak oop te maak.

Die twee staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord wat verband hou met die voorval op 6 September tydens East Coast Radio se Durban Day-konsert by People’s Park naby die Moses Mabhida-stadion, waartydens Kind gesterf het.

Die staat het die borgtogaansoek teengestaan en gesê hulle het erge kommer dat die twee sal inmeng met ooggetuies en dat hulle eie veiligheid ook bedreig word.

Govender het gesê Augustus het al dreigemente ontvang. Een van die dreigemente op Facebook het hom beskryf as “Dead Man Walking”.

Sy het gesê een van die ooggetuies in haar saak is ook gedreig.

Govender het verduidelik dat baie van die ooggetuies saam met Augustus in dieselfde skool is en sommige is selfs in dieselfde bende – die Ogle Road Glamour Boys, beter bekend as die OGB-bende. Sy het gesê die skoolhoof van Fairvale Secondary School, waar Augustus ʼn graad 11-leerling is, wil hom nie weer terughê nie, uit vrees vir die veiligheid van die ander kinders.

Augustus en Warner het albei aan die hof gesê hulle beplan om skuld te ontken op aanklag van moord en poging tot moord.

In beëdigde verklarings wat aan die hof voorgehou is, het hulle aangevoer hulle is ook aangerand en het beserings opgedoen in die bakleiery waaraan 12 seuns deelgeneem het. Hulle het gesê hulle kon nie vlug nie, en al twee is studente – een is in die hoërskool en Warner is by ʼn kollege.

Augustus het aan die hof gesê toe hy hoor die polisie het by sy huis in Wentworth opgedaag om hom in hegtenis te neem, het hy soontoe gegaan sodat hulle hom in hegtenis kon neem. “Ek sal skuld ontken. Ek is ook aangerand,” lui sy verklaring wat sy prokureur, Ridwaan Sayed, aan die hof voorgehou het.

Warner se prokureur het ook sy kliënt se verklaring aan die hof voorgehou. Warner voer aan die aanklaer in die saak van poging tot moord wil die klag terugtrek. Nie staatsaanklaer Sharon Moodley of Govender is egter hiervan bewus nie. “Hulle meng al reeds tydens die aansoek om borgtog in met die staat se saak,” het Moodley gesê. Warner se prokureur het egter daarop gewys dat sy kliënt nie aanspreeklik gehou kan word indien die klaer in die aanklag van poging tot moord sy kliënt nader nie.

Lees alle vorige berigte oor Durban Day op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.