
Schalk van der Merwe en sy vrou, Leoni, is Donderdag borgtog van R5000 elk toegestaan (Foto: Tania Heyns, Maroela Media)
Verskeie mense vermoed dat hulle op die menseregteaktivis Schalk van der Merwe en sy vrou, Leoni, se beweerde moordlys verskyn. Die egpaar van die noorde van Pretoria is nietemin Donderdag borgtog van R5 000 elk in die Pretoria-Noord‑landdroshof toegestaan.
Schalk (45) en Leoni (38) was meer as ’n week lank in aanhouding nadat hulle op aanklagte van sameswering om moord te pleeg in hegtenis geneem is. Die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle ’n sogenaamde moordlys opgestel het van mense waarop hulle sluipmoordaanvalle beplan het.
Die Vrystater Hannes Lottering beweer hy is nommer een op dié lys, waarvan die bestaan nog nie bewys is nie.
Die ondersoekbeampte in die saak, Leon Botha, kon “nóg bevestig nóg ontken” dat die gewraakte lys bestaan.
Botha sê wel in ’n verklaring, wat vanoggend in die hof voorgelees is, dat hy sedert die egpaar se inhegtenisneming verskeie oproepe van mense ontvang het wat daarvan oortuig is dat hulle ook op die beweerde moordlys verskyn.
‘Smeerveldtog’
Die egpaar hou in verklarings van hul eie vol dat Lottering ’n smeerveldtog teen hulle voer en hulle al geruime tyd teister weens hul standpunt rakende Covid-19 en inenting.
Schalk, ’n menseregteaktivis wat ook regsadvies gee, is die direkteur van ’n konsultasie-onderneming en die afgelope jaar veral in die nuus oor sy stryd teen verpligte inenting in die werkplek.
Hy en sy vrou beoog nou om onskuldig te pleit, aangesien die klag teen hulle “vals en sonder meriete” is.
Dit lyk of daar al minstens twee jaar lank vyandigheid tussen Schalk en Lottering heers en albei het glo voorheen beskermingsbevele teen mekaar bekom. Lottering bedryf ook ’n groep op Facebook waarin hy volgens hom “die ware Schalk van der Merwe ontmasker”.
Die egpaar sê in hul verklarings dat ’n lasbrief vir Lottering se inhegtenisneming verlede maand uitgereik is nadat hy na bewering die beskermingsbevel teen hom verontagsaam het. Hulle glo ook dat die hangende inhegtenisneming van Lottering eindelik tot hul inhegtenisneming gelei het.
“Ek glo die inhegtenisneming is deur Lottering georkestreer,” sê Schalk in sy verklaring wat die verdediging aan die hof voorgelees het.
Die egpaar moet op 6 April weer in die hof verskyn.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Wat is verkeerd met die mense, en verkeerd met die mensdom? Jy maak ‘n kruideniersware lys, nie ‘n moord lys!
Huh?
Dieselfde Lottering wat so op FB tekere gaan met sy absurditeite? Klink bietjie van die pad af.
Daar is soveel ellende in hierdie wêreld, dan hou mense hulle nog besig met twak. Kan hulle nie eerder leer perdry of swem……of iets!!
Gaan alles on Schalk te diskrediteer wat veg vir die vryheid van keuse.