Borgtog vir man wat glo oor meisies ry

Argieffoto

Argieffoto

William Taute (27) wat glo oor twee jong meisies gery het terwyl hy na bewering onder die invloed van alkohol was, is Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof vrygelaat op borgtog.

Taute, ʼn voormalige rekenmeester van SA Brouerye, staan tereg op aanklag van strafbare manslag, poging tot moord, roekelose of nalatige bestuur, bestuur onder die invloed van alkohol, uitermatige vlakke van alkohol in sy bloed en versuim om dadelik ná ʼn ongeluk te stop.

Taute, wat deur sy ouers en broer in die hof ondersteun is, is vrygelaat op borgtog van R5 000.

Sy prokureur, Ryno Scholtz, het aangedui dat sy kliënt van voorneme is om skuld te ontken op alle aanklagte.

Jaydene Lucas (16) is Vrydagaand na die Livingstone-hospitaal geneem waar sy dadelik op lewensondersteuningsmasjiene geplaas is, maar die masjiene is later afgeskakel en sy is Maandag oorlede.

Haar vriendin, Lorren Abrahams (20) is glo in ʼn kritieke toestand.

Die twee meisies was saam met ander vriende na bewering op pad na kadetteopleiding van die Vloot toe hulle naby die Humewood-kruising geloop het.

Staatsaanklaer Timothy van Rooyen voer aan Taute het vinnig gery toe hy die twee meisies Vrydagaand getref het. Volgens Van Rooyen het Taute ook ʼn rooi verkeerslig verontagsaam, versuim om by die ongelukstoneel stil te hou en stilstaande motors verbygesteek.

Dit het aan die lig gekom dat Taute baie onlangs uit sy pos by die SAB bedank het, en dat hy besig was om Suid-Afrika te verlaat om werksgeleenthede in Nieu-Seeland te soek. Hy het intussen sy planne gekanselleer om oorsee te reis en het sy paspoort aan die ondersoekbeampte oorhandig. Die staat het gevolglik nie sy aansoek om borgtog teengestaan nie.

Taute bly op ʼn familieplaas in Vryburg in Noordwes as deel van sy borgtogvoorwaardes en hy moet twee keer per week by die Vryburg-polisiestasie aanmeld.

Die saak is uitgestel tot 10 Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Asjas ·

Dit gaan my verstand te bowe. Ek kry dit gereeld dat wanneer ek by ‘n ROOI verkeerslig stop, ouens agter my uit oor die ROOI lig ry. Verstaan ek die reels verkeerd??
Ek sit daar en wens dat ‘n mo&erse trok bo-oor die arogante vente wil ry.
Ek hoop hy word swaar gestraf en boet vir die res van sy lewe. Hy het nie net ‘n fout gemaak nie, hy is dom, astrant, arogant en verwaand verby. Wat maak hom so belangrik dat hy agter ander voertuie uit mag swaai en oor rooi ligte jaag??

tamboti ·

Bestuurders soos hierdie is niks anders as moordenaars agter ‘n stuurwiel nie

Sus ·

Brannewyn het nie brieke nie…… Die pyn en hartseer wat die man veroorsaak het gaan tot in lengte van dae met al die families wees, selfs sy eie, want ek kan nie dink hy gaan tronkstraf vryspring nie. As ander jongmense maar net wil kyk en leer!

Karma ·

Meegevoel aan die ouers/familie van die twee meisies. Ek kon egter nie die ironie van die saak miskyk nie:

Hy was ‘n voormalige rekenmeester van SA Breweries – hy het die produk(te) van sy voormalige werkgewer te veel geniet in dié geval, hoe hartseer dit ookal mag wees. Ek tree nie in die bres vir die ou nie; hy moet inderdaad die gevolge van sy dade dra.

Die meisies het NABY die Humewood kruising geloop – hulle was dus nie OP die kruising nie. Die fout is (in mindere mate) van hulle kant ook … Voetgangers behoort voetgangerspaaie, -brûe en oorgange te gebruik.

Johann ·

Ek verstaan hoe almal oor hierdie kwessie voel en drink en bestuur gaan beslis nie saam nie. Die man is egter nie alleen “skuldig” nie. Hy was Vrydagaand na bewering reeds tuis en het reggemaak om vroeg te gaan inkruip. Sy vriende het hom egter kom haal en oortuig om saam uit te gaan. Ek praat dit glad nie goed nie, maar waar is sy vriende nou? Sal hulle ter strafversagting vir hom getuig en hulle aandeel en aandadigheid erken? Ek hoop so!
Baie simpatie aan die gesin wat hul dogter verloor het en ek hoop die ander jong dame herstel volkome. Sterkte aan almal.

Dries ·

@Johann
Die lewe bestaan uit keuses . As jy drink en bestuur , moet jy die gevolge dra.

tambotie ·

Omdat hulle wegkom met sulke dade doen hul dit weer en is nie bang vir die gevolge.

Suzette ·

Stem saam Tambotie hulle kom weg met als. En die jong meisie wat haar lewe moes inboet? Nee wat geen simpatie nie. Ek meen elke bestuurder weet wat maak alkohol van jou en veral agter ‘n voertuig se stuur. Jy is ‘n moordwapen punt. As jy wil suip soos ‘n vis swem huis toe of bel jou ass. Baie het opsies om jou te kom haal en veilig huistoe te neem

tamboti ·

Ja Suzette, polisie en speedcops moet weer die drinkplekke teiken en die mense vasvat.

Suzette ·

Ai tog “wishfull thinking” hulle aanvaar eerder die omkoopgeld en drink saam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.