Borgtog vir man wat meule glo uit miljoene bedrieg

(Foto: Rupixen via Unsplash)

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn meule uit miljoene rand bedrieg het, is Woensdag in die Delareyville-landdroshof in Noordwes op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Altesame 61 aanklagte van diefstal, wat sowat R9,1 miljoen beloop, staar Reginald Scholtz (57) in die gesig. Die beweerde diefstal het glo plaasgevind toe Scholtz as groep- finansiële bestuurder by Botselo Mills werksaam was.

Ingevolge sy borgtogvoorwaardes moet Scholtz elke Vrydag by die plaaslike polisiestasie aanmeld. Hy moes ook sy paspoort aan die ondersoekbeampte in die saak oorhandig.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is die saak na 3 Mei uitgestel om die staat kans te gee om al die nodige dokumente aan die verdediging te oorhandig en sodat die saak na die gespesialiseerde handelsmisdaadhof oorgeplaas kan word.

Henry Mamothame, woordvoerder van die NVG, sê die Valke se ondersoek na die bewerings het onthul dat Scholtz van Januarie 2017 tot Augustus 2022 drie bankrekeninge by drie verskillende banke gehad het.

Dit word beweer dat Scholtz, wat uit die aard van sy posisie toegang tot die maatskappy se bankstelsel gehad het, geld bedrieglik na dié rekeninge oorgeplaas het onder die vaandel dat dit aan diensverskaffers betaal is.

“Hy het na bewering goedkeuringsvorms geskep wat nodig was om geld aan diensverskaffers te betaal. Dit het eindelik daartoe gelei dat geld in sy persoonlike bankrekenings inbetaal is,” het Mamothame gesê.

Adv. Bongani Chauke, hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid in Noordwes en die aanklaer in die saak, het aangedui dat die ondersoekwerk afgehandel is en die staat is gereed om met die verhoor voort te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

a3a3 ·

swak wetgewing bevorder swak regstelsels en bevoordeel die kriminele

Lillian ·

Vader weet hoe dié mense sulke skelm planne kan sit en bewimpel, eks seker te dom om skelm te wees

Stofdonkie ·

Die borg moes eintlik 9miljoen gewees het, dan het hulle darem nou die geld gehad wat hy geboef het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.