Borgtog vir metropolisielid wat glo meisie doodskiet

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Metropolisielid wat glo sy meisie doodgeskiet en toe bewyse versteek het, is Donderdag in die Durbanse landdroshof vrygelaat op borgtog.

Dayandran “Devon” Govender (44) is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Landdros Vanitha Armu het hom beveel om sy paspoort in te dien en weekliks by die sentrale polisiestasie in Durban aan te meld. Hy mag ook nie met die ondersoek inmeng nie.

Govender word daarvan beskuldig dat hy Rosemary Bell (32) in haar huis in Greenwood Park in Durban doodgeskiet het. Hy woon al die afgelope drie jaar saam met die sakevrou en haar dogter in dieselfde huis.

Staatsaanklaer Blackie Swart het vroeër aan die hof gesê speurder Ntombi Gibson van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) het ʼn strooikussing met ʼn koeëlgat agter Bell se rusbank opgespoor.

Die plaaslike koerant, Northglen News, het verlede week ʼn inwoner van Terenceweg aangehaal wat anoniem wou bly. Volgens die buurman het hy ʼn dowwe skoot gehoor gevolg deur drie “bloedstollende” gille en daarna stilte. Hierdie berig het Gibson oorgehaal om weer die huis te deursoek en sy het toe die strooikussing ontdek.

Swart het aangevoer Bell wou haar vyf jaar lange verhouding met Govender beëindig. Boodskappe op haar selfoon dui glo daarop dat sy geëis het dat Govender haar BMW moet terugbesorg en sy klere uit haar huis moet verwyder.

Sunil Singh, vir Govender, het aan die hof gesê sy kliënt het geen vorige oortredings nie en gaan onskuldig pleit op alle aanklagte. Govender is glo ook nie ʼn vlugrisiko nie en werk al die afgelope 20 jaar lank vir die polisie. Die polisie het reeds ook al die forensiese bewyse versamel wat hulle gaan benodig.

Sy dienspistool is vermoedelik tydens die moord gebruik.

Lees ook:
Durban-metropolisielid skiet glo vriendin dood

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.