Borgtog vir Piet Retief-boere verwelkom

Dié vyf boere word aangekla van moord en aanranding van twee broers in Piet Retief. (Foto: Tania Heyns)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Piet Retief-landdroshof se besluit om Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53), Ignatius Michael Steynberg (31) en Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) op borgtog vry te laat, verwelkom.

Borgtog van R10 000 elk is Vrydag aan die vyf mans toegestaan.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle twee broers, Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka, op 9 April op Pampoenkraal in die Dirkiesdorp-omgewing doodgeskiet het.

Landdros Sam Fankomo het Vrydag gesê daar is geen gronde wat daarop dui dat die beskuldigdes met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe hulle op daardie dag na Pampoenkraal is om plaaswerkers by te staan wat na bewering deur ’n groep betogers geïntimideer en aangerand is nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn video-opname van die gebeure wat die noodlottige skietery op Pampoenkraal voorafgegaan het, wys glo dat die boere nie aggressief opgetree het, soos die staat beweer nie.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, beskryf die gebeure op die plaas as ’n tragedie.

Hy sê die feit dat twee mense dood is, is ’n onreg, ongeag wat gebeur het.

“AfriForum is egter bekommerd dat ’n tweede onreg besig is om te ontvou vanweë die feit dat aktiviste, politici en sekere kommentators ideologies opportunisties met hierdie saak omgaan,” sê Roets.

“Ten spyte van die feit dat daar nog nie behoorlike inligting oor die gebeure beskikbaar is nie, word daar reeds ideologies gelaaide gevolgtrekkings gemaak en word dit as die waarheid gepropageer en gebruik om mense op te sweep en rassespanning aan te hits. Dit is belangrik dat ’n deeglike ondersoek gedoen word sodat ons kan vasstel wat gebeur het voordat sekere gevolgtrekkings gemaak word.”

AfriForum veroordeel voorts uitlatings deur Vusi Shongwe, die LUR vir gemeenskapsveiligheid en sekuriteit in Mpumalanga, wat vroeër daarop gesinspeel het dat geweld moontlik in die provinsie kan uitbreek indien die vyf mans borgtog toegestaan word.

“Na regte moes die LUR eerder ’n boodskap om kalmte in die gemeenskappe uitgestuur het.”

Die hofverrigtinge word op 30 Junie hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Blikkies ·

Hoekom moet die wit Boere R10 000 borg betaal en die ander baie wrede swart moordenaars met geen vaste blyplek slegs R500?

SomeOne ·

10 000 rand borg, dis van om mal te word, alles is rassisties gedrewe
die landdros is deur die oproerige skare be-invloed

LANA is ELANè ·

Sekere partye sal vir altyd geweld aanhits al is dit net om hul eie ideologie verder te bevorder, ongeag of dit anargie of ‘n bloedbad kan afgee.

Catherina ·

Mens is al so moeg vir alles wat in rassisme omgedraai word. What is good for the goose should be good for the gander.

David ·

Borgtog? Wys ‘n video dan nie dat hulle onskuldig is nie?

Dirk Mostert ·

Die LUR is besig om die hof te dreig. Kan hy daarvoor aangekla word?

Nico ·

Hierdie hele saak is polities gedryf en is rassisme, die staat sal alles doen om hierdie boere skuldig te bevind.

N ·

Die wit boere word uit gebyt omdat die regter weet hulle het geld. Wonder hoe lank die R10 000 per boer die hof met KFC gaan voorsien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.