Borgtog vir polisiebeampte wat glo ooggetuie laat vermoor

Walter Francis (Foto: Facebook via ANA)

Walter Francis, voormalige polisiekonstabel, wat na bewering ʼn staatsgetuie in ʼn bendeverwante-moordsaak laat vermoor het, is Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof vrygelaat op borgtog.

Francis het die borgtogaansoek gebring gebaseer op nuwe feite wat aan die lig gekom het, nadat sy borgtog aanvanklik deur landdros Sanjani Naidoo afgekeur is.

Volgens die verdediging is Francis nie meer in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie, maar daar was ʼn arbitrasieproses met die doel om sy afdanking terug te trek.

Hy word beskuldig van die moord op Alex Ferreira, wat as ʼn artikel 204-getuie sou getuig in ʼn ander moordsaak, waar Francis se vuurwapen na bewering gebruik is.

Ferreira is verlede jaar in Bethelsdorp doodgeskiet. Hy het familielede besoek en was nie onder beskerming nie.

Terry Price, vir die verdediging, voer aan die dossier wys dat die staat se saak baie swak is. Hy voer aan daar is eenvoudig geen bewyse wat aandui dat Francis ooit die voertuig bestuur het waarin die skieters Sameal Gallant en Wayne Wabanie vervoer is nie. “Die saak is só swak dat ons ʼn saak teen die polisie kan maak vir onwettige inhegtenisneming en kwaadwillige vervolging.”

Price het gesê die staat steun op ʼn enkele getuie wat na bewering in ʼn verklaring gesê het Francis het aan hom gesê het “they were going to do a number”.

“Wat is ʼn ‘number’? Beteken dit moord?” wou Price weet.

Price het gesê die verdediging ontken nie dat Francis die twee mans rondgery het nie, maar Francis het nie geweet hul doel was om iemand te beroof of te vermoor nie.

Staatsaanklaer Jason Thysse het gesê Ferreira sou getuig in ʼn saak teen Francis waar sy amptelike vuurwapen na bewering gebruik is. Thysse het gesê die hof moet besluit oor die geloofwaardigheid van die jongste getuie, wie se naam in hierdie stadium weerhou word. Hy hou vol die staat het ʼn sterk saak, omdat Francis die persone opgelaai het wat Ferreira sou doodskiet.

Landdros Morne Cannon het egter met die verdediging saamgestem dat die saak swak is en Francis se getuienis bring nuwe feite en buitengewone omstandighede wat sy vrylating op borgtog regverdig. Cannon het gesê daar is nie enige bewyse dat Francis met ooggetuies sal inmeng nie. “Daar is ʼn enkele getuienis en daar is geen bewyse dat hy met die moord verbind word, buiten die woorde ‘they will do a number’ nie.”

Francis het R2 000 borgtog betaal en moet twee maal per week by Bethelsdorp-polisiestasie aanmeld.

Die saak is tot 17 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wat? ·

Sjoe! Borgtog vir modenaar, maar se verkeerde word en jy sit.

Ria ·

Uit op borg vir MOORD. Terwyl sommige mense borg geweier word en jarelange tronkstraf kry oor hul bv iemand in ‘n kis druk of iets verkeerd in publiek sê….Jammer maar ons regstelsel is ‘n grap!

CHRISTA ·

Verstaan ek reg? Is Francis se vuurwapen gebruik om die moord te pleeg? Indien wel, hoe het die moordenaar dit in die hande gekry? Is dit weer terugbesorg aan Francis of is dit gerappporteer as “verloor” ?

Michael ·

Christa, Francis is uit op borgtog hy sal seker voort gaan om te werk met die selfde vuur wapen onthou dit is SA hy word beskerm hy is n misdadiger . Dit is net moord wat gepleeg is niks erenstig nie. Vicky Momberg se saak is erger as moord.

Oom Kalahari ·

Hhhmmm…..ja-nee, ek ruik ‘n rot. Darem snaaks dat die staatsgetuie skielik vermoor is wat in ‘n sak teen Francis sou getuig. Pragtige regstelsel van borg vir ‘n moordenaar, maar ander minder ernstige oortreders word jare lank toegesluit. Wat ‘n grap het dit geword.

Sarel Strydom ·

Nee wat totvdie regstelsel in die land is pateties. Hoekkm was staatsgetuie nie onder beskerming nie. Sal nie inmeng met staatsgetuie nie? Die man se doodsvonnis reeds geteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.