Borgtog vir VBS Mutual se voormalige finansiële hoof

Die agste persoon wat in hegtenis geneem is in verband met die enorme plundery van VBS Mutual Bank is Maandag borgtog van R50 000 toegestaan.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat het nie Philip Truter, die bank se voormalige finansiële hoof, se borgtogaansoek teengestaan nie.

Truter is die jongste verdagte wat in hegtenis geneem is en sluit nou by sewe ander verdagtes in die beskuldigdebank aan.

Tshifhiwa Calvin Matodzi (42), voorsitter van die VBS-raad, Andile Malusi Attwell Ramavhunga (41), uitvoerende hoof van die bank, Phophi Londolani Mukhodobwane (35), hoof van tesourie en kaptiaalbestuur, Sipho Nhlanhla Kelvin Malaba (47), ʼn ouditvennoot, Thifhelimbilu Ernest Nesane (41), die voormalige regshoof van die openbare beleggingskorporasie (OBK), Paulus Nnditsheni Magula (43), voormalige hoof van risikobestuur by die OBK en Phalaphala Avhashoni Ramikosi (46), voorsitter van die ouditkomitee, is reeds in hegtenis geneem en het vantevore al in die hof verskyn. Dié sewe is op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Hulle staan tereg op aanklagte van rampokkery, diefstal, bedrog en korrupsie.

Ngwema het gesê Truter moes sy paspoort oorhandig en mag nie die land verlaat nie.

eNCA het berig Truter het in die Palm Ridge-landdroshof aangedui hy gaan skuldig pleit op die aanklagte teen hom.

Truter kon nie verlede maand saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn nie omdat hy weens Covid-19 in kwarantyn was.

Die groep is vroeër by verskillende eiendomme in Gauteng en Limpopo aangekeer. Die hoof van die Valke, lt.genl. Godfrey Lebeya, het gesê hulle het na bewering gebaat by sowat R122 miljoen wat by VBS gesteel is. Luidens ʼn verslag van die Reserwebank is ʼn bedrag van meer as R2 miljard in totaal egter van die bank gebuit. Die agt word daarvan beskuldig dat hulle deel gevorm het van die plan om VBS te bedrieg.

Die saak teen die beskuldigdes word op 8 Oktober voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Die feit dat hy gaan skuldig pleit, beteken 1 persoon gaan die blaam neem terwyl die res gaan loskom. Daar is seker ook alreeds vir ‘n ligte vonnis onderhandel.

Jeff

Matodzi het nou gesê vir n journalis dat hulle niks verkeerd gedoen – dis die ” white owned ‘ banke se skuld want hulle wil nie hê ‘n swart bank moet sukksesvol wees. Volgende sal dit my kat se skuld wees want hy is ook wit. These people NEVER stop.

Stofdonkie

Die klink positief. As hy wil skuldig pleit gaan hy heel moontlik in ‘n pleitooreenkoms ingaan en die res van sy trawante ook ontmasker. Shame ou julias en floyd is seker bietjie op hulle senuwees.

Scalla

Hy gaan verdwyn

JohanR

Het Philip Truter die minste betaling by VBS gekry en dit is hoekom hy net R50000 borg betaal het, en die sewe ander R100000 elk? Ons will he julle moet praat boeties soos Ghislaine Maxwell in die Jeffery Epstein saga. Se vir ons wat julle weet van Julius Malema en Floyd Shivambu. Net versigtig dat iemand nie vir julle kom uithaal op ‘n donker nag, omdat julle te veel weet nie!