Borgtog vir vier wat glo horings steel

Argieffoto

Argieffoto

Vier mans is Vrydag op borgtog van R20 000 elk vrygelaat ná die diefstal van 112 renosterhorings uit die kluis van die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA).

Staatsaanklaer Ansie Venter het aan die landdroshof in Nelspruit gesê die staat kan nie meer die vier mans se aansoek om borgtog teenstaan nie, het ʼn Sapa-korrespondent berig. Die staat en die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het glo ʼn ooreenkoms aangegaan dat die mans onder streng borgtogvoorwaardes vrygelaat mag word.

Gideon Mtshali (51), Sizwe Leonard Malatjie (34), Selby Khoza (39) en Velly William Zwane (43) moet daagliks tussen 05:00 en 19:00 by hul plaaslike polisiestasies aanmeld. Die beskuldigdes moet ook aandui indien hulle die huis verlaat, selfs al is dit om werk toe te gaan. Die mans moet ook Maandag voor 16:00 hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig.

Mtshali en Malatjie is onderskeidelik op 6 en 7 Junie in hegtenis geneem. Khoza is op 23 Junie by sy werk in Pretoria in hegtenis geneem. Zwane is op 2 Julie in hegtenis geneem nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.

Mtshali en Malatjie het al twee onskuldig gepleit op aanklag van huisbraak en diefstal. Khoza en Zwane is nog nie gevra om te pleit nie.

Die mans word daarvan beskuldig dat hulle by die kluis van die MTPA se kantoor in Nelspruit ingebreek en die opgepotte renosterhorings gesteel het.

Landdros Christa du Plessis het die beskuldigdes gewaarsku om nie die ondersoek in die wiele te probeer ry, ooggetuies te dreig, openbare wanorde te skep of enige getuies direk of indirek te kontak nie.

Die saak is tot 15 Oktober uitgestel om die staat die geleentheid te bied om die ondersoek af te handel.

Lees ook:
Twee vas oor renosterhoringdiefstal
Gepos ná sy hoof skors oor renosterhorings
Hoof geskors ná renosterhoring-diefstal
Renosterhorings van miljoene rande gesteel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.