Borgtog vir voormalige Steinhoff-hoë

(Argieffoto: ANA)

Stephanus (Stéhan) Johannes Grobler is Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria vrygelaat op borgtog van R150 000.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is Woensdag uitgereik.

Grobler, voormalige maatskappysekretaris en hoof van regsake by Steinhoff, staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog, die oortreding van die Wet op Beheer van Finansiële Markte, die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, die Maatskappywet en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede.

Hy het homself Vrydagoggend aan die polisie oorgegee.

Grobler sou saam met Markus Jooste, voormalige hoof van Steinhoff, in die hof verskyn het. Jooste het Donderdag sy eie lewe geneem. Die 63-jarige Jooste het homself glo by Kwaaiwater op Hermanus, naby sy huis by Voëlklip, geskiet.

Jooste is dood ʼn dag nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) hom ʼn boete van R475 miljoen opgelê het.

Grobler se saak is tot 26 Junie 2024 uitgestel, het Mogale bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KB ·

Daar is meer vrot visse in daai Steinhoff-dammetjie…hou net aan “visvang”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.