Borgtog vir vyf wat Fochville-ma glo moor

Die vyf beskuldigdes wat verbind word met Natasha Barnard se dood (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Borgtog is Dinsdag toegestaan aan die vyf beskuldigdes in die moordsaak van Natasha Wheeler Barnard (33), ʼn ma van Fochville.

Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Cecilia Storbeck (23), Twane Wienand (31) en Rudolf Pretorius (23) het Dinsdag weer in die beskuldigdebank in die hof gestaan, terwyl die galery in die hof volgepak was van familielede en inwoners.

Doyle, Scheepers, Storbeck en Wienand is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat, terwyl Pretorius se borgtog op R10 000 vasgestel is.

Doyle, Pretorius en Wienand word voorlopig aangekla van moord. Al vyf word ook aangekla van dwarsboming van die gereg en dat hulle voordeel uit die moord getrek het. Al vyf beskuldigdes ontken skuld.

Barnard is na bewering op 3 Maart in The Boule Vard-restaurant en -kroeg op Fochville aangerand. Paramedici het haar vroeg die volgende oggend by haar ma se huis dood verklaar. Sy het beserings gehad wat daarop gedui het dat sy aangerand is.

AO Kitty Fourie het in die hof getuig dat Barnard trauma aan haar nek en ruggraat gehad het. Sy het nie verder op die uitslag van die nadoodse ondersoek uitgebrei nie.

Natasha Wheeler Barnard. (Foto: Verskaf)

Die beskuldigdes se onderskeie regsverteenwoordigers het Maandag in die hof aangevoer dat dit in die belang van geregtigheid sal wees dat die beskuldigdes op borgtog vrygelaat word. Hulle het voorts aangevoer dat die beskuldigdes se adresse bevestig kon word, dat hulle nie ʼn vlugrisiko is nie en ook geen vorige vengs het nie.

Die landdros het borgtog toegestaan, maar tog gewaarsku dat die staat ʼn sterk saak teen die beskuldigdes het.

“Ons kan egter nie slegs op die gewig van die staat se saak steun nie. Ons moet al die faktore in balans onder die loep neem, soos die belange van die gemeenskap, die regte en vryheid van die beskuldigdes en al die faktore wat die beskuldigdes se regsverteenwoordigers tydens die borgtogaansoek aangevoer het,” het die landdros gesê.

Die beskuldigdes sal na verwagting weer op 31 Mei in die hof verskyn.

Die landdros het tydens haar borgtoguitspraak veral haar misnoeë te kenne gegee oor Fourie se getuienis Maandag oor die kringtelevisiekamera in die kroeg wat tydens die moord afgeskakel is. Sy sê die beskuldigdes het ook stilgebly oor die beweerde aanranding en moord.

“Wat nog meer skokkend is, is die feit dat die oorledene (Barnard) bekend was aan die beskuldigdes,” het die landdros gesê.

Barnard se familie het ná afloop van die hofverrigtinge gesê hulle is ontsteld oor die besluit om borgtog aan die beskuldigdes toe te staan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pienkie

Moordenaars wat borgtog kry!

Wondermaarnet

Wat word van die ou wat die kameras doelbewus gaan afsit het?

Toy

Sies vir julle, die Here slaap nie.

Fviller

Ek kan nie die regstelsel verstaan nie!!! Alles moet “regverdig” gebeur maar watse regverdigheid is daar vir die vrou en haar familie?

Magda G

Hulle moet agter tralies bly. Hoe kon die mans haar aanrand.