Borgtog vir wag wat glo kind uit trollie gryp

‘n Skermskoot uit die video.

Die man wat na bewering verlede maand ongesiens ’n seuntjie uit ’n winkeltrollie in ’n winkelsentrum in Umhlanga gegryp het, is vandeesweek borgtog toegestaan.

’n Woordvoerder van die KwaZulu-Natalse polisie het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat Ntandoyenkosi Bulose (29) op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

Bulose sal weer op 2 Maart in die Verulam-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 57-jarige ouma was die dag van die voorval saam met haar tweejarige kleinseun in die winkelsentrum. Sy was besig om ʼn betaling te doen toe ʼn onbekende man haar kleinseun wat in ʼn trollie gesit het, opgetel en weggeloop het.

Volgens brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het die paniekbevange ouma in die winkesentrum begin rondhardloop en na haar kleinseun geroep. “Sy het gesien hoe ʼn man in ʼn veiligheidswaguniform in een van die winkels inloop met haar kleinseun.”

Die ouma het haar kleinseun uit die man se arms gegryp en die voorval onmiddellik by die winkelsentrum se bestuur aangemeld, waarna die polisie ontbied is.

Polisiebeamptes van die Durban-Noord-polisiestasie het op die toneel aangekom en onmiddellik die sentrum se kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan. Die verdagte is as ʼn veiligheidswag wat aan diens was by die sentrum geïdentifiseer en op die plek in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.