Borgtogaansoeke begin vir Koster-5

Koster-landdroshof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Een van die beskuldigdes in die moordsaak van ʼn plaaswerker van Koster in Noordwes gaan onskuldig pleit. Stefan Nel se regsverteenwoordiger het Maandag in die landdroshof in Koster aangedui dat Nel skuld gaan ontken vir die moord op Klaas Mosimanyana Jobontho (32).

Nel het saam met sy medebeskuldigdes, Donovan Martin, Mustafa Albertyn, Wayne Schroeder en Adam Barnard, in die hof verskyn in verband met die moord op Jobontho.

Nel, Martin en Albertyn word aangekla van moord, dwarsboming van die gereg en die verhindering van die polisie om hul werk te verrig, terwyl Schroeder en Barnard slegs op laasgenoemde twee aanklagte teregstaan.

Jobontho se ontbinde liggaam is op 21 Desember op ʼn kleinhoewe naby Doornlaagte ontdek.

Die ander vier beskuldigdes se borgtogaansoeke kon nie vandag (Maandag) voortgaan nie omdat hul huisadresse nog geverifieer moet word.

Staatsaanklaer adv. Tebogo Mogokonyane het aan die begin van die borgtogverrigtinge aangedui dat die staat Nel se borgtogaansoek gaan teenstaan om twee redes: dat hy nie sy huisadres kan verifieer nie en dat hy vanweë die belang vir die gemeenskap nie vrygelaat kan word nie.

Nel se pa is Maandag na die getuiebank geroep om onder eed die gesin se huisadres in Kleinbrakrivier te bevestig, waar Nel sal woon indien hy op borgtog vrygelaat word. Nel se suster woon in Randburg en haar adres gaan as ʼn tweede adres geverifieer word.

Volgens Nel se regsverteenwoordiger het die staat nie meer ʼn sterk argument waarop hy die aansoek kan teenstaan nie.

Volgens die regsverteenwoordiger is sy kliënt ʼn sakeman en die primêre broodwinner van sy familie. Hy is nie getroud nie en het nie kinders nie.

Die regsverteenwoordiger het aangedui dat Nel ook nie ʼn paspoort het nie en nie van voorneme is om met enige getuie kontak te maak en só by die saak in te meng nie.

“Nel hou ook nie ʼn gevaar vir die gemeenskap in nie en dit sal nie vir die gemeenskap ontwrigtend wees indien my kliënt op borgtog vrygelaat word nie,” sê die regsverteenwoordiger.

Volgens die regsverteenwoordiger sal Nel se eie veiligheid ook nie in gevaar wees indien hy vrygelaat word nie.

“Dit sal in die belang van geregtigheid wees indien my kliënt op borgtog – wat in ooreenstemming met die erns van die misdryf is – vrygelaat word.”

Nel se borgtogaansoek sal Donderdag voortgaan terwyl die ander vier weer Maandag in die hof sal verskyn wanneer hul borgtogaansoeke na verwagting sal voortgaan.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is op 21 Desember na die betrokke kleinhoewe. Die inwoners op die plaas het na bewering die polisie by die hek ontmoet, maar geweier om beamptes toegang tot die kleinhoewe te gee. Die beamptes het toe oor die geslote hek geklim om self toegang te verkry.

Toe die polisie toegang tot die kleinhoewe verkry, het hulle bloedspore op die grond gewaar wat hulle na ʼn stoorkamer gelei het waar hulle ʼn ontbinde liggaam gevind het. Die persoon se hande is met ʼn elektriese koord vasgebind en hy het slaanmerke oor sy lyf gehad.

Twee vuurwapens, ammunisie en ʼn slaapsak is ook op die toneel gevind.

Alle aanklagte is voorlopig teen ʼn sesde verdagte, Lourene Janse van Niewenhuisen, teruggetrek hangende die uitslag van die polisie se ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos 100 ·

Jip. Met sulke sake is ons regstelsel bitter goed, maar hulle kan nie regkry om enige politikus vir enige saak in die hof te kry nie!

Marius ·

Dit is vir my baie snaaks dat sekere sake 20 jaar plus neem en nog nerens is nie en ander sake afgehandel word voor jy nog jou oe kan uitvee.
Dit spreek boekdele van ons regsbank en die wat aangekla word !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.