Borsvoeding: Ondersteun ma’s só

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel uitsluitlik borsvoeding aan vir die eerste ses maande van ʼn baba se lewe, en deurlopende borsvoeding tot op twee jaar of langer.

Borsvoeding hou talle gesondheidsvoordele vir ma en baba in en is ook ʼn belangrike bron van voedselsekerheid vir gemeenskappe reg oor die wêreld.

Terwyl die WGO ʼn uitsluitlik borsvoedingsteiken van 50% vir 2025 gestel het, het ʼn opname wat in 2016 gedoen is, getoon dat slegs 32% van nuwe ma’s in Suid-Afrika uitsluitlik borsvoed vir die eerste ses maande na die geboorte van hul babas.

Wêreldborsvoedingsweek, wat elke jaar in die eerste week van Augustus gevier word, moedig mense van alle kringe aan om deel te word van die ketting wat borsvoeding ondersteun.

Talle mense besef nie die impak wat hulle op ʼn nuwe ma se ervaring van borsvoeding het nie. Misleidende raad, ondeurdagte aanmerkings en beskamende houdings van familielede, vriende en kollegas eis ʼn tol op nuwe ma’s wat ʼn kwesbare tydperk beleef.

Waarom het borsvoedende ma’s ondersteuning nodig?

Babas word gebore met ʼn refleks om na hul ma se bors te soek. Dit beteken egter nie dat borsvoeding, ʼn uiters tydrowende proses, vir almal ewe maklik is nie. Dit is normaal vir voedings om oefening te verg vir ma sowel as baba en vir nuwe ma’s om praktiese ondersteuning vir borsvoeding te kry.

Maria van der Merwe, president van die Suid-Afrikaanse Dieetkundevereniging (Adsa), is van mening dat Suid-Afrika nog ʼn ver pad het om te stap wanneer dit kom by die lae koers van uitsluitlik borsvoeding in die eerste ses maande ná geboorte.

“Ma’s in Suid-Afrika word deur ʼn reeks struikelblokke in die gesig gestaar, wat strek van sosiale houdings en die inmengery van familielede en vriende tot die aldeurdringende tekort aan toegang tot gesondheidsondersteuning en werksplekke wat vyandelik of ontmoedigend teenoor borsvoedende ma’s optree,” verduidelik Van der Merwe.

Daarom glo sy dat ʼn landswye poging aangewend moet word om ondersteuning vir borsvoedende ma’s te bevorder.

“Ons moet meer bewus raak van die uitdagings wat ma’s ervaar, meer ondersteunend wees en met volhoubare oplossings vorendag kom. Mense wat ma’s afkraak omdat hulle in die openbaar borsvoed moet bewus raak daarvan dat borsvoeding van ʼn baba wanneer en waar hulle honger is, uiters belangrik is en dat dit deur wetgewing beskerm word.”

Van der Merwe sê dit is belangrik om bewus te wees van wat jy sê vir nuwe ma’s en watter inligting jy met hulle deel.

“Daar is baie mites oor borsvoeding en dit is nie behulpsaam om dit lukraak te deel nie. Vermy dit om ʼn ma te laat twyfel in haar eie vermoë om te borsvoed deur vaste kosse of babaformule as ʼn alternatief voor te stel, selfs al het jy dit met jou eie baba gedoen.”

Ma’s wat sukkel of angstigheid oor borsvoeding beleef, behoort aangeraai te word om ʼn gesondheidsbeampte of borsvoedingskonsultant te spreek wat hulle in hul borsvoedingsreise kan ondersteun, sê sy.

“Wees ʼn rasieleier vir jou vriendinne en familielede wat borsvoed, selfs al is jy nie self ʼn ma of ouer wat borsvoed nie.”

Lewensmaats se ondersteuning kan ook ʼn beduidende rol speel in die volharding van ʼn borsvoedende ma.

“As jou lewensmaat borsvoed, is jy in ʼn uitstekende posisie om elke dag borsvoeding aan te moedig. Skep ʼn tuisomgewing waar ʼn borsvoedende ma nie tyd aan huistake hoef af te staan nie en raak betrokke deur windjies uit te vryf na voedings. Jy kan ook die baba bad, inkopies doen en etes voorberei sodat die ma op borsvoeding kan fokus.”

Sy het ook die belangrikheid van ondersteuning deur werksplekke benadruk. “Ongelukkig is die terugkeer werk toe een van die algemeenste redes waarom nuwe ma’s borsvoeding staak. Werkende ma’s kry kraamverlof vir slegs drie of vier maande, of selfs minder. Dit is verpligtend vir werksplekke om te verseker dat borsvoedende ma’s minstens twee geleenthede van 30 minute elk kry om melk uit te pomp,” sê Van der Merwe.

“Suid-Afrika het ʼn ver pad om te stap in die ontwikkeling van ʼn pro-borsvoedingskultuur wat ons jammerlike borsvoedingskoers kan verbeter. Borsvoeding en die gesondheidsvoordele en voedselsekerheidstrategieë behoort die norm vir Suid-Afrikaanse ma’s te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.