Bosasa-base in hof oor R1,8 miljard se bedrog

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Linda Mti, die voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, en vier ander persone het in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn oor aanklagte wat verband hou met tenders ter waarde van meer as R1,8 miljard.

Mti het in die hof verskyn saam met die voormalige finansiële beampte van korrektiewe dienste Patrick Gillingham, die voormalige Bosasa-bedryfshoof Angelo Agrizzi, en die maatskappy se voormalige finansiële hoof Andries van Tonder, op aanklag van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie en geldwassery.

Die saak is tot 16 Oktober 2020 uitgestel om ʼn hofdatum te bepaal, het Sindisiwe Twala, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê. Die regspan van die beskuldigdes en die span staatsaanklaers het ooreengekom om voor die datum bymekaar te kom om tussentydse kwessies aan te roer.

Die saak hou verband met vier tenders van R1,8 miljard wat tussen 2004 en 2007 aan Bosasa Operations en sy filiale toegeken is. Die kontrakte was vir die lewering van spyseniers- en opleidingsdienste, installasie van kringtelevisiekameras, installering van grensdrade, en die verskaffing van televisiestelsels en moniteringstelsels.

Twala het gesê die beskuldigdes is vroeër vrygelaat op borgtog van R20 000 en hulle moes ook hul paspoorte indien. Die borgtog is verleng.

“Die saak spruit uit die vroeë tydperk van korrupsie by Bosasa. Die maatskappy en sy filiale het uiteindelik meer as R34 miljard ontvang uit regeringskontrakte van ʼn rits staatsdepartemente op alle vlakke van die regering selfs ná korrupsie in die vier aanvanklike tenders in 2010 onthul is.”

Adv. Hermione Cronje, vir die NVG, het gesê die direktoraat se ondersoek om te bepaal wie verantwoordelik is daarvoor dat korrupsie voortgeduur het ná die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se aanvanklike verslag, duur voort. Nog inhegtenisnemings kan moontlik volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Trek die saak terug want dit is wat gaan gebeur. Hulle sal niks oor kom nie ons almal weet dit nou al teen die tyd

Misky ·

Agrizzi sou nie met so groot smile daar sit as hy gepla was nie. Hy weet hy gaan loskom en hy het die ANC agter hom en hy het net opdragte uitgevoer. Hele lot is vrot!!!

Jakes ·

Wat van Ubuntu? Dadels sal hiervan kom. Die Zondo kommisie sal al almal mijoeners wees dan is niemand nog aangeklae nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.