Bosasa-bedryfshoof vrees vir sy veiligheid

Angelo Agrizzi. Foto: Itumeleng English/ANA

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof van die omstrede fasiliteite-bestuursgroep Bosasa, het Donderdag gesê hy is bekommerd oor sy veiligheid nadat hy iemand gesien het saam met wie hy voorheen gewerk het by die plek waar hy getuig in die geregtelike ondersoek na staatskaping.

Agrizzi het glo doodsdreigemente ontvang sedert hy korrupte aktiwiteite by Bosasa aan die lig gebring het. Sy verskyning voor die staatskapingkommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, is gevolglik tot op die nipper ʼn geheim gehou.

“Voorsitter, ongeveer vier jaar gelede het ek ʼn man in diens geneem wat in die polisie was, ʼn kolonel of ʼn kaptein, Solomon Segale. Hierdie man is uiteindelik as ʼn direkteur by een van die maatskappye binne Bosasa aangestel,” het Agrizzi aan die kommissie gesê.

“Ek wou nie iets gesê het totdat ek seker was nie, maar gister tydens middagete het mnr. Segale saam met ʼn groep polisiebeamptes buite gestaan. Hulle was in uniform, maar hy was in gewone klere. Ná verdere ondersoek het ek vasgestel hy het ingeglip met sy ou polisie ID-kaart.”

Adv. Paul Pretorius, die getuienisleier, het gesê die kwessie oor hoe Segale toegang tot die plek waar die kommissie sit verkry het, word ondersoek. Zondo het opdrag gegee dat die sekuriteit opgeskerp word en dat daar ondersoek ingestel word hoe ʼn vervalde polisiekaart gebruik kon word om toegang mee te verkry.

Agrizzi het vroeër aan die kommissie ʼn video gewys van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, wat geld tel, glo omkoopgeld wat betaal is vir die kontrak van R14 miljoen per maand wat die maatskappy by die lughawensmaatskappy (Acsa) gekry het.

In die ses minuut lange video kan Watson gesien word saam met Johannes Gumede, sy voormalige sakevennoot, en Papa Leshabane, uitvoerende direkteur, wat na bewering geld tel in ʼn instapkluis by Bosasa se kantoor waar vertroulike dokumente ook gestoor word.

Agrizzi het gesê die geld wat in grys plastieksakke in die kluis gestoor word, word uitsluitlik vir onwettige aktiwiteite gebruik, onder meer om omkoopgeld intern en ekstern te betaal.

Hy het gesê Bosasa betaal 15%-premies aan sy personeellede om stil te bly oor onwettige aktiwiteite. Volgens Agrizzi word dié geld as “bonusse” verbloem omdat die geld onwettig bekom is.

Bosasa is betrek by bewerings van korrupsie en het glo gunste en donasies aan invloedryke politici gegee in ruil vir winsgewende regeringstenders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Redeploy Julias se lyfwagte om hierdie man te gaan oppas. Agrizzi se lewe is werklik in gevaar!

Ek kan nie glo dat daar nie alreeds omgesien word na sy veiligheid nie.!!!!!!!!!!!!!!

Felix ·

Jig, wat ‘n katnes is hierdie nuwe land van ons nie, en dan is dit sagkens gestel, mens moet dit eintlik nie eens fluister nie.

Felix ·

Ek het ‘n tyd gelede ‘n plaag van vlermuise by die huis ervaar, en ek het gedink dit is erg.

Al ·

Maak nie saak hoe korrup hy is nie, dis goed dat hy die geraamtes uit die kas laat val.
Hoë profiel en arrogante staats amptenare moet val.

koos ·

‘n Polisie aanstellings sertifikaat verval nie.
Toe die lid bedank het moes die kaart ingehandig gewees het, maar as die lid sê hy het hom verloor? Wat dan?
Ondersoek die oud lid, hy is dalk by meer as net intimidasie betrokke.

Jeremia ·

Sien daar is reeds iemand oorlede wat voor Zondo sou getuig. Glo ‘n stresverwante hartaanval gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.