Bosasa bekom glo ook NVG-dokumente met ‘omkopery’

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof van die omstrede fasiliteite-bestuursgroep Bosasa. Foto: Simphiwe Mbokazi /ANA

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het Donderdag voor die Zondo-kommissie getuig die maatskappy het glo daarin geslaag om deur middel van korrupte transaksies belangrike ondersoekdokumente in die hande te kry wat saamgestel is ter voorbereiding van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se vervolging van die maatskappy.

Agrizzi het Donderdag vir die sewende dag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Agrizzi sê die maatskappy het deur sy korrupte verhouding met senior aanklaers dié dokumente bekom wat glo die stand van die ondersoek na die maatskappy se sake, asook verklarings, interne memorandums, notules, vorderingsverslae, afskrifte van e-poskettings, ʼn konsepklagstaat en ongedateerde handgeskrewe notas ingesluit het.

Hy het gesê van hierdie dokumente het verband gehou met voorgestelde aanklagte van rampokkery en geldwassery teen Patrick Gillingham, voormalige finansiële hoof van die departement van korrektiewe dienste.

“Daar is vir my gesê die dokumente het uit die lêers van die NVG rakende die ondersoek na Bosasa gekom,” het hy gesê. Op ʼn vraag of die rampokkery- en geldwassery-aanklagte ooit teen Gillingham ingestel is, het Agrizzi gesê: “Nee, niks is al aan mnr. Gillingham gedoen nie.”

Agrizzi beweer een van die dokumente wat deur Linda Mti, voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, aan hom gegee is, bevat die name van 27 mense wat glo die kern van ʼn ondersoek na rampokkery is. Die dokumente is glo deur adv. Marijke de Kock opgestel en was net vir ʼn paar uitgesoekte senior aanklaers se oë bedoel.

Bosasa se probleme het begin toe die spesiale ondersoekeenheid (SO) ondersoek na die maatskappy se beweerde korrupte verhouding met beamptes van die departement van korrektiewe dienste (DKD) ingestel het. Die SOE het ʼn verslag oor hul ondersoek saamgestel en dit aan die NVG oorhandig, maar die vervolging het gesloer.

Agrizzi het gesê Bosasa het daarna sy opdraggewende dokumente vir die maatskappy se prokureurs opgestel om die wettigheid van die SOE-verslag te betwis en die saak te laat sluit. Hulle het aangevoer die regte van die maatskappy en die persone wat by die bewerings betrek is, is geskend. Hy het gesê die bewyse oor korrupsie wat in die SOE-verslag vervat was, was soos “vrugte van ʼn vergiftigde boom”.

Agrizzi het vroeër getuig Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, het tot R100 000 ʼn maand omkoopgeld aan advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi van die NVG betaal. Jiba en Mrwebi het glo die ondersoek na Bosasa hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Uiltjie ·

Iemand kan mos n korrupsie omnibus skrywe: DEEL 1 – VBS BANK, DEEL 2 STEINHOFF, DEEL 3 BOSASA! SAL LEKKER GELD MAAK?

Spike ·

As hierdie net Bosasa se derms is wonder ek hoe lyk Eskom, Telkom, SAL, Prasa. ñ Totale comrade en kader gemors.

Ja swaer ·

Adv Jan Mothibe by die SOE het n ruk terug gevra hoekom die NVG niks doen aan die Bosasa saak nie. Waar is die DA en VF+? Hoekom dien hulle nie klagtes v regsverydeling in teen Jiba en Lawrence Mrwebi nie? Dis hulle wat Marijke de Kock gekeer het om te vervolg. Met al die SOE se bestaande bewyse en Agrizzi se getuienis, hoekom is die hele spul van Gillingham, Watson, Mti, Jiba, Mrwebi ens ens ens nie lankal gearresteer nie, Zuma ingesluit en Dudu Miyeni? Ek sal julle se hoekom: Cyril Ramaphosa en die ANC se NUK keer dit in die agtergrond, dis hoekom

Jesse ·

Ja Swaer en ons moet nie vergeet die ANC glo dat bedrog en korrupsie is Westerse begrippe-ala Zuma-niemand in die ANC het ooit daardie uitlating van Zuma verwerp nie. Hierdie getuienisse skrik hulle nie af nie-hulle weet niks gaan gebeur nie-as jy al deur Afrika gereis het sal jy weet omkoop word glad nie as ‘n misdryf beskou nie-dis deel van die daaglikse sakehandelinge. Hoe gouer ons aanpas hoe beter. Watson en Bosasa leef net die tradisionel Afrika manier van sakedoen uit.

Genieve ·

Die mense moet al in die tronk gewees het klomp skelms yoh kan nie glo hulle is nog op vrye voet nie nadat bewyse aan die lig gekom het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.