Bosasa ‘het bewyse verbrand en begrawe’

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Die Zondo-kommissie het Dinsdag gehoor die omstrede fasiliteite-bestuursgroep Bosasa het verskeie metodes gebruik om bewyse van beweerde korrupsie te vernietig, insluitend ’n opsetlike ineenstorting van hul webbediener, die verbrand van rekenaars en deur selfs dokumente in ’n gat te begrawe.

Angelo Agrizzi, voormalige Bosasa-hoofbedryfsbeampte, het Dinsdag gedurende sy getuienis vertel dat Bosasa-baas, Gavin Watson, glo paniekerig geraak het toe die spesiale ondersoekeenheid (SOE) die maatskappy begin ondersoek en ’n verslag oor hul bevindinge saamgestel het. Watson het gevolglik glo opdrag gegee dat alle inkriminerende inligting vernietig word.

Dié verslag het vier kontrakte van miljarde ingesluit wat met die departement van korrektiewe dienste gesluit is vir spyseniering, toegangsbeheer, veiligheidskameras en veiligheidsheinings. Dit het ook besonderhede bevat van beweerde korrupsie, insluitend ’n matriekafskeidrok vir Patrick Gillingham, ʼn beampte by die departement van korrektiewe dienste, se dogter waarvoor Bosasa betaal het.

Die ondersoek het gevolg ná berigte in die media verskyn het oor die maatskappy se rekening by die reisagentskap, Blake’s Travel. Dié reisagentskap was glo gebruik om vakansies vir senior regeringsamptenare te reël en te betaal, onder andere vir Linda Mti, voormalige direkteur-generaal van korrektiewe dienste, en sy vrou.

Agrizzi het beweer Watson het glo na aanleiding van die mediaberigte vir Agrizzi en Andries van Tonder, die finansiële hoof, beveel om na die reisagentskap toe te gaan en alle dokumente te vernietig. “Nadat ons al die rekenaars en dokumente gekry het, het ons na die Luipaardsvlei-koshuis, ’n eiendom wat aan Bosasa behoort, gery. Dié koshuis was in daardie stadium onder konstruksie en ’n bouterrein oorkant die Bosasa-kantoor,” vertel Agrizzi.

“Daar was klaar ’n gat in die grond waarin ons die dokumente gegooi het. Ryno Roode, ’n Bosasa-werknemer, het vir ons petrol gebring wat ons oor die dokumente gegooi het waarna ons dit aan die brand gesteek het. Daarna het Gerhard van der Bank, ’n ander Bosasa-werknemer, ’n laaigraaf gebruik om die gat toe te gooi.”

Volgens Agrizzi is ’n ander werknemer daarna aangesê om die reisdokumente oor te skryf deur fiktiewe name op te maak om sodoende hul spore dood te vee.

Daarna is ’n rekenaarspesialis by die maatskappy na bewering ook beveel om dokumente te vernietig waarna die werknemer die ineenstorting van ’n webbediener moes versin sodat dit sou lyk asof die dokumente gedurende die ineenstorting vernietig is.

Kopieë is egter van die hardeskywe gemaak.

Agrizzi het aan die kommissie gesê hy is op ’n latere stadium opdrag gegee om hom na die Bosasa-kantoor te haas en ontslae te raak van nog inkriminerende dokumente, veral met betrekking tot Phezulu Fencing en ’n ooreenkoms tussen Mti en Watson oor beweerde omkoopgeld. Mti het na bewering R100 000 retensiegeld van Bosasa gekry nadat hy ’n kontrak van R486 miljoen gesluit het vir die veiligheidsheining van sowat 66 gevangenisse.

Volgens Agrizzi het die SOE tog eindelik toegang gekry tot inligting op Bosasa se webbediener, maar Watson kon na bewering daarin slaag om twee mans te huur om dié inkriminerende bewyse te vernietig.

Agrizzi is al ’n geruime tyd besig met sy getuienis voor die kommissie en het reeds talle skokonthullings gemaak.

Ten spyte daarvan dat Agrizzi in sy getuienis Maandag die vinger na die ANC, onder andere ANC-LP Vincent Smith en Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, gewys het, sal vir eers nie opgetree word teen lede van die ANC wat in die Zondo-kommissie se ondersoek by oortredings betrek word nie.

Volgens Zizi Kodwa, die ANC se nasionale woordvoerder, kan geen lid op grond van een weergawe van ’n getuie skuldig verklaar word sonder om aan te neem dat daar nog ’n weergawe van gebeure is nie. Kodwa het persone wat in Agrizzi se getuienis genoem word, aangemoedig om die kommissie te nader en hul weergawe van gebeure te gee.

Agrizzi sal vandag voortgaan met sy getuienis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Paul ·

Snaaks dat vir hulle ander reëls geld, skuldig na skuldig bevinding. Vir die onderwyseres het dit nie gegeld nie. Sy is geskors na aanleiding van ‘n foto en klaar skuldig bevind.
Hoe pateties is die spul nie. Kan die media nie van hulle ‘n verduideliking kry nie. Asb.

koos ·

Geld los ALTYD ‘n spoor, volg dit net.
Dink aan Jackie Selebi se saak. Hy het elke maand goed geleef sonder om sy salaris te gebruik.
Hier moet baie goeie ondersoek gedoen word, die vraag is of daar die wil gaan wees vir so ‘n ondersoek, of gaan maar dieselfde gebeur as met die wapen aankoop ondersoek?

Susan ·

En diegene wat nou geimpliseer word, het genoeg tyd om van alle bewyse ontslae te raak. Tensy daar reeds op hul rekenaars beslag gelê is – wat ek betwyfel.

Alet ·

Hierdie hele kommissie-storie is ‘n klug! Na al die onthullings en vingerwysing, gaan daar net mooi niks gebeur nie. Glo nie iemand gaan vervolg word nie! Die enigste persoon wat moeilikheid gaan hê is die ou wat nou soos ‘n voëltjie sing. Hy kan dalk nog sy lewe verloor! Wonder wat kos die Kommissie-storie tot en met vandag?? Seker miljoene.

leser ·

agrizzi sing lekker, hoop daars ander wat sy woorde kan staaf
indien die ge-impliseerdes ook voor die kommisie kom getuig sal daar meer en meer wanpraktyke uitkom en hulle gaan hulself verraai
kodwa moedig ge-impliseerdes aan om hulle weergawe te kom gee, hulle gaan hulself in die voet skiet

Peter Holmes ·

Agrizzi laat my dink aan The Godfather. Don Corleone. Die man het n geheue soos n olifant. !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.