Bosasa het joernaliste glo betaal om stories nie te skryf

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa (Foto: Dimpho Maja/ANA)

’n Direkteur by die omstrede fasiliteitebestuursgroep Bosasa, het glo byna ’n dekade lank elke maand R71 000 in omkoopgeld aan junior amptenare en joernaliste betaal om “saam met hulle te werk”. Dié joernaliste het glo omkoopgeld ontvang om sommige stories nie te skryf nie.

Dié bewering is die jongste deur Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, gedurende sy sewende dag van getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Agrizzi het Donderdagoggend verduidelik dat Bosasa ná Linda Mti, die voormalige nasionale kommissaris vir korrektiewe dienste, se bedanking in 2006 glo genoodsaak was om verhoudings met amptenare te bevorder om sodoende tenders te behou.

Bosasa het na bewering Mti sowat R65 000 per maand betaal om tenders in gevangenisse te verseker.

Agrizzi het verder vertel dat amptenare soos Josiah Maako, kontrakbestuurder, Dikeledi Tshabala, hoof van aankope, en Mollet Ngubo, adjunkhoofkommissaris vir bestuur, elkeen na bewering R15 000 per maand betaal is.

Maria Mabena, hoofdirekteur vir gesondheidsorgdienste, Shishi Matabella, ontwikkelingskommissaris, en Mkabela, ’n amptenaar wie se naam Agrizzi nie gedurende sy getuienis kon onthou nie, is elk na bewering R10 000 per maand betaal.

Zack Modise, voormalige nasionale kommissaris, het na bewering sowat R20 000 per maand in sy sak gesteek.

Volgens Agrizzi is hierdie betalings deur Papa Leshabane, Bosasa-direkteur, bestuur wat glo sowat R71 000 per maand by Bosasa-baas, Gavin Watson, gekry het waarna hy dit dienooreenkomstig verdeel het.

Onder diegene wat glo uit die bedrag betaal is, was ook joernaliste wat volgens Agrizzi inligting aan Bosasa moes verskaf en aangesê is om nie sekere stories oor Bosasa te skryf nie. Agrizzi het egter nie die betrokke joernaliste op die naam genoem nie.

“’n Totaal van R71 000 is aan Leshabane gegee, waaruit hy vir Modise en drie joernaliste moes betaal,” verduidelik Agrizzi.

Hy verduidelik verder dat die kodenaam PLS op die lys van name ter sprake na Leshabane verwys.

In reaksie het adjunkhoofregter Raymond Zondo vir Agrizzi gedurende sy getuienis gevra: “Hy het joernaliste betaal? Vir wat?” waarop Agrizzi geantwoord het: “Vir inligting, om nie stories te skryf nie.”

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê jou sê ·

Ek hoop ou Angelo kan al sy bewerings staaf, anders sien ek probleme vir hom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.