Bosasa het maandeliks omkoopgeld aan staatsamptenare betaal

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het Maandag aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê die minister van omgewingsake, Nomvula Mokonyane, het maandeliks R50 000 ontvang as deel van die voordele wat sy van Bosasa ontvang het.

Volgens Agrizzi is die beweerde omkoopgeld maandeliks aan Mokonyane oorbetaal vanaf 2002 totdat hy Bosasa in 2016 verlaat het.

Agrizzi sê egter Bosasa, wat nou as African Global Operations handel dryf, het nie enige tasbare voordeel getrek uit sy verhouding met die minister buiten politieke beskerming nie. Mokonyane was aanvanklik ʼn aandeelhouer en direkteur van Dyambu Holdings, Bosasa se houermaatskappy.

Agrizzi het gesê Bosasa se verhouding met Mokonyane dateer terug tot ongeveer 2002 toe sy nog LUR van veiligheid en sekuriteit in Gauteng was. Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, het Agrizzi glo versoek om toe te sien dat Mokonyane verskeie geskenke ontvang en verskeie geleenthede is op haar versoek gereël en Bosasa het daarvoor betaal.

Die geskenke sluit in instandhouding en sekuriteit by Mokonyane se huis in Roodepoort; jaarliks ʼn lang lys Kersinkopies; betaling van die uitgawes van begrafnisse vir haar familielede; verskeie ANC-geleenthede, insluitend die verversings vir ʼn partytjie vir president Jacob Zuma se 72ste verjaarsdag.

“Ek het aanvanklik nie gedink daar is enigiets fout met die reëling nie. Dit is in die boeke aangeteken soos enige ander transaksie. Daar was verskeie versoeke, insluitend begrafnisreëlings vir familielede, motorhuur vir tot drie maande vir haar dogter toe sy uit China kom kuier het waar sy studeer het,” het Agrizzi gesê.

Hy het gesê Mokonyane het gereeld besoek afgelê aan Bosasa se kantoor en in een stadium, in 2008 of 2009, het sy versoek dat Bosasa ʼn volledige analise moet doen van sekuriteit by provinsiale hospitale.

“Ons het, in opdrag van Watson, ʼn analise gedoen en die verslag voorberei. Die verslag is aan Watson oorhandig en by Mokonyane ingedien. Daar was in daardie stadium ʼn groot kwessie wat sekuriteit by Gautengse hospitale betref, daar was gevalle waar dokters met messe aangeval is, veral by Leratong- en Baragwanath-hospitaal. Die verslag het daarop gedui dat daar wesenlike probleme was wat betref die infrastruktuur en toegangsbeheer.

“Die verslag sou glo aan iemand anders gegee word om ʼn tender in te dien. Papa Leshabane het Reggie Nkabinde se naam genoem wat die verslag ingedien het asof hy dit saamgestel het en hy sou die tender in 2009 ontvang.”

Nkabinde was in daardie stadium ʼn uitvoerende beampte van die ANC-jeugliga. Agrizzi het gesê Mokonyane het Bosasa weer genader om ʼn generiese oorsigtelike analise te doen om die damme te beskerm toe sy in 2014 die minister van waterwese was. Hy het gesê die hospitaalverslag en die verslag oor dam-beveiliging het Bosasa onderskeidelik R2 miljoen en R1,3 miljoen uit die sak gejaag.

Agrizzi het bygevoeg hy was persoonlik gefrustreerd dat Bosasa maandeliks omkoopgeld aan Mokonyane betaal het, maar geen voordeel daaruit getrek het nie. Watson het glo net gesê hy moet doen wat hy gesê word en stilbly daaroor.

“Ek was siek en sat daarvan om geld te betaal vir mense, dit is die waarheid. Ek het vir Gavin Watson gesê baie geld word betaal en Bosasa trek geen voordeel daaruit nie. Ek het hom versoek dat ons nie ʼn polities gebaseerde maatskappy moet wees nie, want ons het al hoe dieper in die moeilikheid beland. Dit was nie nodig om omkoopgeld te betaal om ʼn goeie, geloofwaardige maatskappy te bedryf nie. Maar ek is aangesê hierdie is Afrika, en ons moet maak soos Afrikane maak.”

Agrizzi het gesê Watson het ook maandeliks omkoopgeld betaal aan lede van die portefeuljekomitee van korrektiewe dienste, insluitend voormalige voorsitter Vincent Smith, sodat hulle ander pad moes kyk wanneer vrae gevra is oor Bosasa se staatskontrakte. Bosasa het in daardie stadium ʼn multi-miljoen rand se kontrak gehad met die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling en korrektiewe dienste om toegangsbeheer en waarnemingstoerusting op te rig by verskeie howe in die land.

“Toe die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek begin instel het oor Bosasa se bedrywighede, is ʼn besluit geneem dat die parlementêre komitee die negatiewe impak van mediadekking sou bestuur sodat dit nie ʼn negatiewe impak sou hê op toekomstige besigheid nie. Daar is ingestem dat LP’s Vincent Smith, Vincent Magagula en Winnie Ngwenya maandeliks kontantbetalings sou ontvang om seker te maak die negatiewe mediadekking van Bosasa se bedrywighede by korrektiewe dienste kom tot ʼn einde,” het Agrizzi bygevoeg.

“Vincent Smith sou R45 000 ontvang, Vincent Magagula R30 000 en Winnie Ngwenya R20 000. Alhoewel hulle nie by magte was om tenders toe te ken nie, het hulle die vermoë gehad om iemand se lewe moeilik te maak of besware aan te teken.”

Agrizzi het gesê Smith sou ook ingryp wanneer voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, Zach Modise, druk plaas oor die gunstige houding jeens Bosasa en het bystand gelewer tydens komiteevergaderings in die parlement om gunstige besluite jeens Bosasa te verseker.

Volgens Agrizzi het Bosasa tussen 2008 en 2016 maandeliks R500 000 aan beamptes van korrektiewe dienste betaal. Dit is later tot R750 000 per maand verhoog toe Tom Moyane aangestel is as die nasionale kommissaris. Hy het gesê die betalings aan Smith het verhoog tot R100 000 per maand. Bosasa het glo ook ʼn veiligheid- en kamerastelsel, elektriese heining en verskeie ander veiligheidsinfrastruktuur by Smith se huis in Constantia Kloof in Roodepoort geïnstalleer.

Bosasa het ook Smith se dogter se universiteitsgeld by Aberswyth University in Wales betaal. Agrizzi verwerp Smith se weergawe dat hy die geld geleen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johan H. ·

As hierdie China was,was julle almal al terreggestel, hoop die regering waarvan nou dit blyk ,dat die meeste kriminele is,laat reg en geregtigheid geskied, en sluit julle almal lewenslank toe.

manie ·

Ongelooflik hoe korrup die sogenaamde nuwe SA is. Hierdie het al begin by Mandela. Húlle wou aan bewind kom om hulle hande in die land se geldlaaie te kry

hb ·

Wie gaan die reg en geregtigheid laat geskied? Goeie gros almal is korrup. Wow. In my hart voel ek nog steeds hierdie is n verkiesings foefie en niemand “belang” gaan aan die pen ry ni. Skrikwrkkend

Johan ·

Uit die PERD se bek,wanneer in Afrika,doen soos die Afrikane…. CORRUPT and Rotten to the bone.Wag tot die kanker by PIC oop gevlek word,gaan hierdie na n geldinsamelings projek laat lyk.

Gert ·

As n oud staatsamptenaar is die nuus oor DKD baie interessant. Nou verstaan ek waarom werksonstandighede so onuithoubaar was die laaste jare……….die omkoopgeld het die Vetkoppe heeltemal deurmekaar gemaak!!!!!

Thinus Erasmus ·

Kom ons wees realisties. Hierdie is alles bewerings wat nie maklik bewysbaar is tensy die grootbaas wel ‘n boekie gehou het nie. En hy sal dit nie sommer vrywillig oorgee nie.
Maar al die inligting wat nou bekend raak sal hopenlik meer mense ook uit die korrupsie kas laat klim. Die korrupte staatsamptenare gaan so ontnugter en afgunstig raak op mekaar se omkoop lone, dat die vonke gaan spat.
Of iemand ooit suksesvol vervolg gaan word, is te betwyfel, maar heelparty gaan uitgeskakel word – veral die verklikkers.
Agrizzi se enigste kans op oorlewing is as hy homself aan Interpol oorgee – hier in SA sal niemand hom kan beskerm nie.
Wat Watson betref, ek hoop hy het wel “boekie” gehou en baie kopiee gemaak wat hy baie goed weggesteek het – sy dae is getel en ek dink nie sy geld gaan genoeg wees om hom te red nie. Of miskien werk hy vir Soros.
Hierdie storie kan ‘n treffer fliek wees.

Oom Piet ·

Ek hoop Sars gaan kyk na hierdie geld wat sy ontvang het bo en behalwe haar salaris as minister.

Elsa ·

Sars moet die opdrag van die kommisaris kry voordat hul hoë profile persone mag ondersoek.

Con Dumpi ·

Die ANC behoort te ontbind. Hulle het hul kiesers en Suid-Afrika gefaal en álmal ly daaronder. Maar, daar is geen skaamte of gewete nie, net arrogansie. Verlos ons van die Bose.

Elbie Naude ·

Snaaks hoe die “Groot Ontkenning” en “Dreig Met Regsstappe” elke keer sy kop uitsteek sodra daar ‘n rokie is. Me thinks the lady doth protest too much.

What a mess! ·

Ag te lekker man.. Vreet die gravytrein leeg, gougou die tyd hardloop uit…Suid Afrika is op die drumpel van n totale ekonomiese ineenstorting…

Snowball ·

Dit lyk of elke mikrovesel van hierdie regering korrup is. Alles is pap-stink-vrot besmet met elke moontlike kleur, geur, dimensie, nuanse, pad en afdraaipad van korrupsie waar die ANC kriminele ingesypel het soos ‘n dodelike kanker.

willie ·

Cavin Waton is Cheeky Watson van PE se ouer broer en hul oudste broer Ronnie se naam duik ook op! Die Watson’s bly maar omstrede!

Thinus Erasmus ·

Dankie Willie – ek het juis gewonder oor die Watsons, is hul die SA weergawe van die Guptatas?

alida ·

Ek hoop al hierdie bewyse is veilig op verskillende plekke gebere want hierdie oom se lewe is regtig in gevaar. Hy beter vinnig alles vertel voor dit te laat is. Ek glo darem hy het gesorg dat alle bewysstukke veilig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.