Bosasa-korrupsie: Vinger wys ook na hooflanddros Nair

Richard le Roux, oudwerknemer van Bosasa (31 Januarie 2019) (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Pretoriase hooflanddros Desmond Nair, wat die borgaansoek van Oscar Pistorius hanteer het, is op die lys van hooggeplaastes vir wie Bosasa sekuriteitstelsel geïnstalleer het, het die staatskapingkommissie Donderdag gehoor.

Richard le Roux, IT-kenner van Bosasa, het getuig een van die uitvoerende beamptes by Bosasa, Trevor Mathenjwa, het aan die voormalige bedryfshoof Angelo Agrizzi opdrag gegee om die installasie by Nair se huis in Pretoria te behartig. ʼn Kamerastelsel, alarmstrale en ʼn elektriese heining is teen ʼn koste van R250 000 geïnstalleer, het Le Roux aan die Zondo-kommissie gesê.

“Ek onthou dat Agrizzi omgekrap was oor die projek. Hulle het ʼn tegnikus na die huis gestuur en hy het ʼn Sondolo IT [ʼn Bosasa-maatskappy]-uniform gedra. Veiligheidswagte wou weet waarom Sondolo IT die werk doen. Ek is toe na die huis gestuur en die wagte het my ook ondervra. Ek het gesê ek weet nie enigiets van Sondolo nie, en dat ek net die sekuriteitsbehoeftes by die huis moes nagaan en toerusting moes installeer.”

Nair is die eerste regspersoon wat in die staatskapingondersoek geïmpliseer word.

Le Roux het getuig hy het ʼn span by Bosasa bestuur wat “spesiale projekte” behartig en werk by hooggeplaastes se eiendomme gedoen het. Dit sluit ANC-voorsitter en minister van minerale hulpbronne Gwede Mantashe, minister van omgewingsake Nomvula Mokonyane, voormalige raadsvoorsitter van die SAL Dudu Myeni, voormalige hoof van tronke Linda Mti, ANC-LP Vincent Smith, adjunkminister van korrektiewe dienste Thabang Makwetla, en voormalige werwingshoof by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) Mbulelo Gingcana in.

Bosasa het verskaffers slegs met kontant betaal en kodewoorde is gebruik om na die projekte te verwys, het Le Roux bygevoeg.

Werk ter waarde van nagenoeg R300 000 is uitgevoer op Mantashe se eiendomme. Dit sluit sekuriteitsopgraderings in by sy huis in Boksburg, Gauteng, ʼn plaas in Elliot in die Oos-Kaap, en ʼn eiendom in Cala in die Oos-Kaap.

Die hooggeplaastes het ontken dat hulle enigiets verkeerd gedoen het.

Mantashe het verlede jaar November voor die Zondo-kommissie getuig. Sy getuienis het gevolg ná die voortvlugtige Gupta-familie se bankrekenings gesluit is. Hy het ná sy getuienis dit uitdruklik gestel dat Bosasa nooit enige sekuriteitstelsels by enige van sy eiendomme geïnstalleer het nie.

Le Roux het gesê kameras, wat by Smith se huis geïnstalleer is, is intussen verwyder. ʼn Video het verlede jaar aan die lig gekom wat wys hoe tegnici sekuriteitskameras by Smith se huis verwyder. Die ANC-LP het verlede jaar berigte, dat Bosasa installasiewerk by sy huis in Roodepoort gedoen het, verwerp. Smith se installasiewerk het Bosasa ongeveer R200 000 uit die sak gejaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Chris ·

Kyk, na hierdie sage van die Watsons en die Guptas oor staatskaping waaroor voor Regter Zondo getuig word, is ek maar baie bly ek is ‘n armlastige pensionaris.

Arak ·

Kan alle amptenare wat nie by korrupsie betrokke is nie asseblief opstaan…
Enige iemand?

Peter Says ·

Soon the gravy will be gone. Dry porridge on the menu.

Neels ·

Kyk, of Angelo Agrizzi nou ‘n rassis is of nie, die spyker word al dieper ingeslaan.

Ellisras ·

Soos met alle misdaad dink die een wat dit doen: Ek sal nooit gevang word nie. En as jy eers vasgevang is kom jy nie los nie.

Ellisras ·

Nou wonder ek of die regerende party bereid sal wees om die volgende in die grondwet in te skryf: As die Hoofregter goeie vermoedens het dat daar staatskaping / korrupsie is moet hy ‘n kommissie aan stel om dit te ondersoek.

Michael ·

Hoekom bedank die hele ANC nie net nie. genade wat n klomp CROOKS

Moses ·

Vra ek ook Michael/Deon.
Lyk my hulle is nou maar eenmaal te eenvoudig en skaamteloos. Alle amptenare moet self betaal vir die dom besluite wat hulle neem. As hulle nie oor die vermoë beskik om te weet wat is reg en verkeerd nie dan hoort hulle nie in die poste te wees nie. Hoog tyd dat die mense vervolg word met dieselfde passie waarmee die staat die kastige rassiste mee vervolg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.