Bosasa: ‘Mokonyane was baie belangrik’

Frans Vorster. Foto: Nokuthula Mbatha/ANA

Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, het die gebruik van ʼn deel van Bosasa se inbelsentrum gefasiliteer vir die ANC in die Wes-Rand vir sy verkiesingsveldtog tydens die algemene verkiesing in 2014.

Frans Vorster, ʼn voormalige werknemer van Bosasa, het Woensdag by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat Gavin Watson, hoof van Bosasa, daarop aangedring het dat Mokonyane voorrang geniet en dat daar in al haar behoeftes voldoen word.

Mokonyane was in daardie stadium premier van Gauteng en ʼn stoere ondersteuner van toenmalige pres. Jacob Zuma. Sy was tot Mei 2014 premier waarna sy as minister van water en sanitasie aangestel is. Mokonyane “was baie belangrik” vir Bosasa, het Vorster getuig.

“Daar is vir my gesê sy het belangrike politieke bande, in [Thabo] Mbeki én Zuma se eras. Ons het opdrag gekry om alles waarmee ons besig was net te los wanneer dit by Mokonyane gekom het. Sy het waarskynlik deure vir Watson oopgemaak, want as sy iets gesoek het, het ons gespring en alles gelos om in die minister en haar familie se behoeftes te voorsien.”

Joe Gumede en Papa Leshabane, direkteurs van die maatskappy, het in 2014 saam met Watson vir Vorster gevra om ʼn gedeelte van die inbelsentrum vir ʼn groep ANC-lede voor te berei.

“Ons is opdrag gegee om dit vir die ANC in te rig as ʼn inbelsentrum vir die verkiesing. Ons inligtingstegnologie-afdeling het lessenaars, rekenaars en fone vir die ANC-groep gereed gekry. Tussen 20 en 25 mense het by die sentrum opgedaag. Minister Mokonyane het persoonlik die proses gedryf.”

Kgwerano Financial Services, ʼn filiaal van Bosasa, het die rekening vir die ANC se gebruik van die sentrum betaal, waaronder drie maaltye per dag vir twee weke. Ná die verkiesing is ʼn groot markiestent in Bosasa se parkeerterrein opgerig om die ANC se oorwinning te vier.

“Die ANC het nie onmiddellik ná die verkiesing die perseel ontruim nie. Die markiestent is deur Alistair Gavin, ʼn bestuurder by Bosasa, hanteer. Die markiestent, kos, die huur van eetgerei en alles andersins is deur Bosasa betaal. Gavin het dit hanteer en dit was ʼn geleentheid vir omtrent 400 mense.”

Nomvula Mokonyane. Foto: Elmond jiyane, GCIS

Vorster het Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, se getuienis dat die maatskappy by verskeie geleenthede gevra is om voertuie vir Mokonyane se dogter te huur, beaam. Volgens Vorster het hy laat in 2015 ʼn oproep van Watson ontvang waartydens hy versoek is om vir Mokonyane se dogter ʼn kabriolet te huur vir Desember.

“Ek moes die voertuig in my eie naam huur sodat dit nie teruggespoor kon word na Mokonyane se dogter nie. Ek sou voorgee dat ek die voertuig bestuur. Dit was ʼn stryd om ʼn kabriolet te kry en ek het Watson ingelig en gevra of ek nie ʼn ander luukse motor kan kry nie waarna ons ʼn Audi A3 gehuur het. Ek het die motor by [Nomvula] Mokonyane se huis in Krugersdorp afgelewer.”

Toe dit tyd was om die motor terug te gee het Mokonyane gevra of sy dit tot Januarie 2016 kon hou en daar is ingestem tot haar versoek. Volgens Vorster het hy opgemerk daar is skade aan die agterkant van die motor toe dit uiteindelik terugbesorg is. Vorster het getuig Watson was geïrriteerd toe hy hom daarvan in kennis gestel het.

“Ek het vorms ingevul by die voertuighuurmaatskappy en aangevoer dat ek die motor gestamp het terwyl dit in trurat was. Die koste vir die huur van die motor en die herstelwerk het meer as R100 000 beloop en Bosasa het daarvoor betaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

leser ·

en so gaan baie nog ge-impliseer word, die “movie” begin nou eers

Adam ·

Blykbaar so diep imgekruip dat Luke Watson hulle nie eers op sy Springboktrui kon uitkots nie. Glo my, daar is nog baie ander “wurms” wat presies dieselfde doen en eers later uit die houtwerk sal kom.

Nou verstaan ek ·

Dit is verby siek hoe korrupt die hele spul is. Hulle het mekaar verslind vir die Liefde vir geld bo enige iets anders.

Deon ·

Die pakke sal baie materiaal vereis, en die belastingbetaler sal weer moet hoes.

Petro ·

Wie in die lewe stem hierna nog vir hierdie klomp geldgierige goed??

CW ·

Die stemvee sal altyd vir hulle stem wanrt hulle word geleer sy kospakkie sal afgevat word of die lappie grond waarop hy plant vir mieliemeel en bier sal vir n ander gegee word saam met sy paar bokke en of beeste. Hulle sal nie meer hop hop huisies kry nie en so gaan die lys aan.
Dis die stemvee, hulle stem altyd anc ongeag wat gebeur. Die vryheidsvegters
Dis die wat het wat omgee oor korrupsie want hulle verloor waarvoor hulle gewerk het. Die res het nie so het niks om te verloor nie. Se KK inBobby Mcgee: freedoms just another word for nothing left to loose, nothing aint worth nothing but its free.

Dafer ·

Slegte nuus vir julle almal: Van oor 300 mense wat gearresteer is vir kabel diefstal, die afgelope jaar, is 18 skuldig bevind. Die res is vry!
Skat maar self hoeveel van hierdie politici ooit skuldig bevind gaan word! :-)

Dafer ·

Daarteenoor kan ek net noem dat gedurende soortgelyke tye in 2014 in Brasilie was daar meer as 155 000 mense gevonnis, en dien tans tronkstraf uit, a.g.v hulle korrupte optredes.

Riaan ·

Nou gaan ek seker weer aangeval word,maar ek dink dat ons gebede saam met Oom Angus,by die Its Time byeenkoms in 2018 is verhoor. Ons het gebid o.a oor die korrupsie in ons land. Wit,swart,pink,geel. Almal saam!!. Nou sien ons hier hoe begin die modder kraak en die slange kruip uit,want die son word warm.Bid net nou dat die slangvangers hulle werk sal doen.
Ons land sal n beter plek wees sonder hierdie klomp pofadders

CWm ·

Miskien moet ons dan begin bid en veg om GOD wwer in die grondwet hoof van die land te maak. Dan raak jou krake oornag skeure en die skelms uitgedelg.

Jerry ·

Nomvula Mokonyane was en is steeds baie belangrik. Sy was nog die minister van water en sanitasie toe sy vol bravade vanaf n verhoog wat sy met Zuma gedeel het, die kaders ingelig het dat die ANC die rand gaan laat val en dat dit die ANC gaan wees wat die rand weer sal optel. Daarom moet mense hulle nie laat mislei oor die korrupte ANC en die teen korrupsie ANC. Hulle is almal kop in een mus en deel van die groter ANC plan. Die Zondo kommissie en ander kommissies het dit ten doel om mense, plaaslik en in die buiteland, te mislei deur die beeld van die ANC te poets as teen korrupsie vir buitelandse investering en vir die verkiesing. Die ANC kan nou n nuwe fase betree omrede hulle met staatskaping in hulle doel geslaag het om wit monopolie te breek en die geldmag te bekom. Die nuwe fase het dit nou ten doel om die ANC polities te versterk en volle beheer oor die ekonomie te verkry met nuwe kader strukture. Verdere kondisionering van Suid Afrikaners vir nasionalisering gaan tydens hierdie nuwe fase stap vir stap geimplimenteer word.

Karolis ·

My gedagtes raak doodstil as ek die vraag vra: is daar enige van ons eens florerende land se amptenare wat nie skuldig is aan enige vorm van korrupsie vergrype nie?

Genieve ·

Dus nou regtig n groot skande kan jy glo hulle hoe het hulle hulleself verryk en steeds is hulle nog nie in oranje pakke nie. Mokonyane was dan so oor naam wat geskend en nou was sy bie belangrikste een wat na omgesien moes word waarvoor word gewag sluit die eerste spul toe en wag vir die ander asb.

JohanL ·

Ek herhaal weer wat ek al telkemale geskryf het – die ANC en korrupsie het ‘n lang geskiedenis wat al begin het toe hulle in “exile” was. Ons moet toegee dat hulle met korrupsie innoverend is en met “briljante” idees kom (anders as hul regte verpligtinge teenoor die land en sy mense). Dit vat soms lank voor hulle uitgevang word, maar iewers praat iemand mos maar altyd.

aj ·

Die Zondo kommissie is ‘n doelbewuste PROPAGANDA FOEFIE om die aandag af te trek van die mislukte staat!

Die ANC regime se RAINBOW NATION “eksperiment” het skouspelagtig misluk omdat die mense inherent korrup is.

‘Let’s face it!’

flip ·

Man…..hier kom n ding!!!! dit sal die beste fliek ooit uitmaak…..hoe sê….watch this space…

Gemaskerde Sopbeen ·

As Cyril NIE hiervan geweet het nie, was hy ‘n swak vise-president………..en as hy hiervan geweet het en NIKS daaraan gedoen het nie…………is hy net so skelm!! Nou wat nou?

Adam ·

Stem volmondig saam. Dit is hoekom ek al hoe lank na hom as bang Cyril verwys. Hy is so ruggraatloos dat hy voor Zuma se afdanking hom om verskoning gevra het saam met Mthembu en Mantashe nadat hy Zuma gekritiseer het. Hy het vinnig besef sy posisie is nie so sterk nie en hy sal moet leer kruip. Boonop is hy so diplomaties dat hy sy eie leuens glo.

Geregtigheid ·

Die ANC het blykbaar klaar gese dat hulle nie hulle lede gaan vervolg nie. Doen hulle dit, het SA nie meer n Parly nie.

CW ·

As iemand ooit gedink het iemand sal vervolg word is die persoon ver verwyder van afrika werklikheid. Niemand sal vervolg word,Mantashe is nou ook al in die bondel, daar gaan niks oorbly as daar vervolgings sou wees. Hele anc sal in tronk wees waar hulle hoort maar dis geil eiers, sal nooit uitbroei nie, net stink

OumaLien ·

Bosassa moet seker ‘n fantastiese kantien hê want die manne wat getuig sit darem stewig in die saal:-)

Vans ·

En hier Zuma se naam weer – net mooi niks gaan uit die saak uit kom nie soos res van sy saake

Alida Swart ·

Dit wil voorkom of die HELE ANC verrot is!!! Hulle weet nie meer wat reg & verkeerd is nie!

Alida Swart ·

Dat jy jou siel so kan verkoop????? ‘n Paar potte lensiesop!!!

HARTSEER ·

Die ANC gaan nie hul eie mense vervolg nie. Iewers sal ons as belastingbetalers ‘n regsspan moet kry om namens die SA Burger teen hierdie korrepte mense op te tree. Miskien moet Afriforum nou hul kant bring vir die belastingbetalers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.