Bosasa: Vakbond gaan teen Watson optree, werknemers bystaan

Solidariteit het Dinsdag gesê dit is onaanvaarbaar dat werknemers die spit moet afbyt vir korrupte persone en praktyke, terwyl daardie einste persone skotvry daarvan afkom.

Dit volg nadat Bosasa aangekondig het dat hy vrywillige likwidasie aanvaar. Sedert die aankondiging het werknemers wat daardeur geraak word buite Bosasa se hoofkantoor in Mogale-stad begin demonstreer.

In die lig daarvan het Solidariteit bevestig dat hy Bosasa se uitvoerende hoof, Gavin Watson, deur middel van ʼn proses soos bepaal in artikel 65 van die Insolvensiewet gaan ondervra om sy aandeel in die Bosasa-debakel te ontbloot.

“Dit is ʼn uiters hartseer verhaal waarin lewens verwoes word weens korrupte sakelui en politici,” het Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, gesê. “Ons sal ongetwyfeld sorg dat die persone wat die Bosasa-debakel veroorsaak het, aan die pen ry.”

Volgens Van der Bijl bevestig die vakbond verder dat hy sy lede by Bosasa tydens die likwidasieproses gaan bystaan. “Ingevolge artikel 38 van die Insolvensiewet moet ʼn likwidateur eers met die werknemers se vakbonde konsulteer alvorens hul dienste beëindig kan word.”

Volgens artikel 38 van dié wet word dienskontrakte opgeskort sodra ʼn likwidasiebevel uitgereik is. Werknemers hoef derhalwe nie dienste te lewer nie en hulle kan ʼn eis vir hul verlies aan inkomste by die Werkloosheidsversekeringsfonds indien.

Van der Bijl verduidelik voorts dat werknemers ná die beëindiging van hul dienskontrakte as krediteure van die maatskappy gesien word en bedrae wat aan hulle verskuldig is, kan eis. “Ten tye van die beëindiging van dienskontrakte kan ʼn voormalige werknemer ʼn eis vir agterstallige bedrae by die likwidateur instel. Solidariteit sal ook sy lede hiermee bystaan,” het hy bevestig.

“In die lig van die skokkende onthullings oor die korrupsie by Bosasa wat al ʼn geruime tyd lank hoogty vier en die onskuldige werkers wat nou daardeur beïnvloed word, kan ons nie anders as om die skuldiges aan die pen te laat ry en om terselfdertyd die werkers by te staan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andile ·

Hi GP, Sekerlik min maar in hul lewens is dit belangrik. Kom ons hoop van hulle kan ook getuig en wat n wonderlikke geleentheid om Watson via die likwidasie te ondervra onder eed. Dalk braak hy op sy hemp soos sy nefie destyds op die Springboktrui.

Daan Erasmus ·

Dit is nie ‘n geldige vraag om te vra of die werkers lid is nie. Die publisiteit wat Solidariteit kry is groot. En niks anders tel nie.

Schalk ·

Weereens n teken van die slang waar is die boekhouers en wie het hulle ge oudit die afgelope klompie jare.Witboordjie kriminaliteit selfde as moord.Jul berig bevestig verwoesting van lewens,so almal wat deel was en is van die slagting en hulle wT bevoordeel was en grweet het,behoort dieselfde straf as n moordenaar tekry.ROEI KORRUPSIE UIT.

Db ·

Die wesens kerm en kla elke dag daar daar werkskepping moet wees. Magtig hoe kan dit gedoen word as alles waaraan hulle raak bedrog en korrupsie is. Hulle sakke kan nie meer vat nie en dit is hoekom hulle vere voel vir die wekers wat nou sonder inkomste gaan sit. Klaar geskep en het die oog op die volgende poedingbakkie wat nog vol is. Wonder hoe lyk hulle bankrekeninge. Kan nie verstaan dat Sars nie ondersoek instel na hulle nie want Sars het volle toegang tot bankrekeninge maar o wee skuld net paar rand aan hulle en hulle vat dit sommer net uit jou bank uit. Boetie sorg vir boetie en sal ons altyd aan die agterspeen suip solank as wat hierdie “mense” aan bewind is

Sarel ·

Hoop daar is reeds beslag gele op Watson eiendom. Wonder wat is die rugby trui waarom gemors sou word nou werd? Hier is n volk uitverkoop vir n pot lensiesop. Die ANC behoort n goeie bedrag vir die trui op n veiling te betaal.

jean ·

En so sit die Steinhoff grootkoppe nog steeds met hul dure whiskies en “party”…. Sal geen vervolging wees vir die Watsons.

John ·

Nee, want dan gaan die delers en stelers aan die pen ry. Die stilte en ZZ-kommizzie is vir praat en praat en dan is die lug gesuiwer en mooi dan gaan ons maar weer aan. Viva.

nolleen ·

Dit is baie hartseer dat werknemers altyd dit spit moet afbyt terwyl die korruptes agteroor sit en aangaan met hul lewe. Ons sien en hoor maar net van die groot maatskappye maar daar is baie klein maatskappye wat dieselfde doen…en ons word nie ondersteun deur instansies soos Solidariteit nie. Ek myself het onder andere 20 jaar en daarna ses jaar se pensioen verloor as gevolg van korrupte werkgewers. Ek voel vir die mense..gelukkig vir die wat lid is van Solidariteit

GP ·

Ek ondersteun wat Solidariteit doen, maar ek self was jare lank lid gewees en toe ek hul nodig gehad het het hul eenvoudig net geweier om te help. Wat help dit dan dat individue betaal maar net hoe profiel sake word hanteer. Dit kan nie net oor publisiteit gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.