Bosasa wou my intimideer, sê redakteur

Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, het Dinsdag by die kommissie van ondersoek na staatskaping getuig oor talle telefoonoproepe en boodskappe wat hy ontvang het om hom te verhoed om oor Bosasa te berig.

Basson en mede- ondersoekende verslaggewer Carien du Plessis het in 2006 in die Beeld-koerant oor beweerde korrupte bedrywighede by Bosasa, nou bekend as African Global Operations, begin berig. Die ondersoek het voortgeduur toe hulle na die Mail & Guardian geskuif het. Die weekblad het in Januarie 2009 ʼn artikel, “Here is the proof, minister”, gepubliseer ná die departement van korrektiewe dienste beweerde korrupsie met Bosasa ontken het.

Basson het gesê hy het Bosasa-e-posse ontvang wat deur ʼn bron uitgelek is wat die omvang van korrupsie by Bosasa aangedui het.

“Die departement het aangevoer hy spandeer baie geld om korrupsie te bestry. Ek kon bewys dat Bosasa tenderbepalings opstel en dat die tenders daarna aan hulle toegeken word. ʼn Kenner het die egtheid van die e-posse, bekend as beta data, bevestig,” het hy gesê.

“Dit is wat ons ʼn ‘smoking gun’ in joernalistiek noem. Dit was ʼn ‘smoking gun’. Dit was ʼn bewys van hoe Bosasa toegang bekom het en was, miskien, wat ons vandag staatskaping noem.”

Kort ná die artikel gepubliseer is, het Basson telefoniese dreigemente begin ontvang. Een van die oproepe was in Februarie 2009 van ʼn vrou wat hom gebel het toe hy met vakansie was saam met sy meisie (nou sy vrou). Die vrou het klaarblyklik uit ʼn intelligensiedokument voorgelees toe sy persoonlike inligting van hom onthul het, insluitend waar hy bly, wie sy familie en vriende is en waar hy grootgeword het.

“Dit was duidelik dat sy uit ʼn tipe intelligensiedokument voorgelees het. Sy het nie probeer om te help soos wat sy aangedui het nie, maar om my bang te maak. Ek het toe vir haar gesê ek sal haar bel as ek in Johannesburg kom en ʼn vergadering belê. My gevolgtrekking is dat dit ʼn Bosasa-operasie was om my te intimideer en my bang te maak. Sy het gewaarsku dat ek doodgemaak sou word as ek vir enigiemand sou vertel wat sy gesê het.”

Hy het die vrou se nommer op Google opgesoek, en bevind dat dit aan wyle Benedicta Dube, ʼn skakelwesepraktisyn, behoort. Dube was ook ʼn verslaggewer by die Financial Mail, eTV en ʼn voormalige hoof van nuus by Power FM.

Basson ontken bewerings dat hy en sy familie Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, by sy huis besoek het.

“Ek het ʼn paar maande gelede gesien [dié gerugte] doen die ronde. Dit is vals. Ek het nooit my kinders na enige werksafsprake geneem nie. Ek het Agrizzi self gaan sien ná hy publiek aangekondig het dat hy Bosasa wil oopvlek. Ek was alleen, en as ʼn verslaggewer, wou ek nog meer inligting by hom kry om in my ondersoek oor Bosasa te gebruik.”

Agrizzi se verdoemende getuienis het aan die lig gebring dat omkoopgeld in 2012 aan minstens drie verslaggewers betaal is om negatiewe mediaberigte te voorkom. Minstens R30 000 is aan Pinky Khoabane, wat voorheen vir die Gupta-beheerde koerant, The New Age, gewerk het, ene Ntuli en Bongs van die Oos-Kaap oorbetaal. Agrizzi het in daardie stadium gesê die voormalige SAUK-joernalis Benedicta Dube en oudjoernalis Stephen Laufer was mediakonsultante vir Bosasa. Hy het getuig Dube en Khoabane het “baie nou” saam met Bosasa gewerk en eersgenoemde het meer as R1 miljoen in betalings van Bosasa ontvang. Agrizzi het gesê die maatskappy het maandelikse berigte van die mediakonsultante ontvang oor Basson en Du Plessis en dat “alles deur Bosasa gedoen is” om dié twee verslaggewers te diskrediteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

‘…Agrizzi se verdoemende getuienis het aan die lig gebring…’
Verdoemende getuienis? Nêrens word sover aan die lig gebring dat enige een vervolg word nie. Dit wil voorkom asof die Guptas mak was gereken teenoor hièrdie groep, maar wat is die doel hier? Wat volg hierop?

Ellisras ·

Al wat al aangekondig is waar vervolging sal wees is dat Arizzi vervolg sal word omdat hy die K woord gebruik het. Die Staat se hulpbronne is in Aksie.
Agrizzi is binnekort in die tronk.
En die res loop vry rond.

Cherokee ·

Heil Switserland, heil Brittanje, heil Duitsland, heil Nederland, heil VSA, huil ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.