Boschendal wêreld se ‘mooiste’ wynlandgoed

Boschendal-wynlandgoed (Foto: Boschendal/Facebook)

Wat is dan nou beter as ’n lekker glas wyn in die hand terwyl jy uitkyk oor prentjiemooi wingerde op tuisbodem?

Die luukse reishandelsmerk CV Villas het ʼn opname gedoen oor die gewildste wynstreke sowel as die mooiste wynlandgoedere en bevind dat die Boschendal-wynlandgoed, geleë tussen Stellenbosch en Franschhoek, die mooiste ter wêreld is.

Die studie is gedoen na aanleiding van groeiende wyntoerisme.

Volgens CV Villas het Google-soektogte vir “wynvakansie” en “wingerdtoere” die afgelope 12 maande onderskeidelik met 22% en 50% toegeneem.

Mooiste wynlandgoedere

Boschendal-wynlandgoed (Foto: Boschendal/Facebook)

Met die studie het die reiskenners by CV Villas hulle tot Instagram-data gewend om die 30 mooiste wynlandgoedere te vind. Daar is ook in aanmerking geneem watter wynlandgoed se blad die meeste op die sosialemediaplatform gedeel is.

Die Boschendal-wynlandgoed het op grond hiervan met die louere as die wêreld se mooiste wynplaas weggestap. Sy blad is ʼn allemintige 95 501 keer op Instagram gedeel.

Boschendal is een van die land se oudste wynlandgoedere en dateer uit 1685, slegs sowat 30 jaar nadat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.

Oor die afgelope 100 jaar het die landgoed voortdurend sy wynaanbod ontwikkel – van chardonnay tot ʼn komplekse sauvignon blanc – en het ook begin om wyntoere, ʼn plaaswinkel, staptoere, vrugtepluk, en soveel meer aan te bied.

Suid-Afrika se Tokara-, Waterkloof- en Spier-wynlandgoed is onderskeidelik 19de, 20ste en 30ste op die lys.

Tokara-wynlandgoed (Foto: Tokara Wines/Facebook)

Waterkloof-wynlandgoed (Foto: Waterkloof Wines/Facebook)

Spier-wynlandgoed (Foto: Spier/Facebook)

Tweede op die algehele lys is Penfolds Magill Estate in Adelaide, Australië, met 94 761 Instagram-hutsmerke.

Penfolds Estate is die tuiste van Australië se mees bekroonde wyn en bied besoekers die kans om ʼn verskeidenheid produkte te proe van hul fyngegroeide druiwe wat sedert 1844 daar verbou word.

Die VSA spog met die derde plek vir die wynlandgoed Castello di Amorosa in Calistoga, wie se blad altesame 88 784 keer op Instagram gedeel is.

Op dié wynlandgoed pryk ʼn pragtige Toskaans-geïnspireerde kasteel wat onder meer deur Hollywood se bekendstes besoek word.

Wêreld se beste wynbestemmings

Boschendal-wynlandgoed (Foto: Boschendal/Facebook)

CV Villas het die top-200 rooi-, wit-, rosé- en vonkelwyne ter wêreld, die streek waarvandaan hulle kom, met hul gemiddelde telling (uit vyf sterre) in aanmerking geneem om vas te stel watter streek die tuiste is van die hoogste gegradeerde bottels wyn.

Die ontleding het bevind dat die voorste wynbestemming vir wynliefhebbers Frankryk se Champagne- en Côtes de Provence-streek is.

Altesame 46 van die top-200-wyne is van die Champagne-streek en 20 wyne van die Côtes de Provence-streek afkomstig.

Die top-gegradeerde bottel Dom Pérignon Brut Champagne 2012 van Champagne kos sowat £250 (sowat R5 300). Château d’Esclans Garrus Rosé van Côtes de Provence sal wynliefhebbers sowat £102 (R2 100) uit die sak jaag.

Die Napa-vallei-streek in Kalifornië in die VSA neem die derde plek op die podium in.

Hierdie streek is die tuiste van 400 wynkelders en is veral bekend vir die vervaardiging van topgehalte cabernet sauvignon; trouens, die top-gegradeerde wyn van hierdie streek op Vivino is Joseph Phelps Vineyards Insignia 2015 wat beskou word as een van die beste wyne wat in The Golden State gemaak word.

Die Stellenbosch-streek is vyfde op die lys.

Besoek CV Villas se webtuiste hier vir meer inligting oor die studie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.