Boschkop: Verdagtes gevang terwyl gemeenskap oor misdaad vergader

Die bakkie waarin die verdagtes gevang is. Foto: Verskaf

Die bakkie waarin die verdagtes gevang is. Foto: Verskaf

Die gemeenskap van Boschkop, oos van Pretoria, het Dinsdagaand drie gewapende verdagtes vasgetrek terwyl hulle besig was om oor ʼn vlaag misdaad in die gebied te vergader.

“Ons beskou dié inhegtenisnemings as ʼn groot sukses, en dit dien as ʼn bewys dat sukses bereik kan word as daar goeie samewerking is tussen ʼn gemeenskap en die polisie,” het kapt. Marissa van der Merwe, ʼn polisiewoordvoerder, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê inwoners en die veiligheidsmaatskappy van die gebied het naby Charles (76) en Ralie Groenewald (74) se kleinhoewe, waar die egpaar op 12 Mei aangeval is, vergader om die misdaadsituasie te bespreek. Charles is tydens die aanval doodgeskiet.

“Inwoners het omstreeks 21:00 die gebied patrolleer en ʼn verdagte ligblou enkelkajuit Nissan-bakkie met vyf insittendes op die Donkerhoek-grondpad opgemerk. Hulle het die bakkie, wat probeer wegjaag het, agtervolg en alarm gemaak. ʼn Wilde jaagtog het gevolg. Die mense wat in die vergadering was, het die pad afgesper, en was heeltyd met tweerigtingradio’s met die mense wat die bakkie agtervolg het, in verbinding,” het Van der Merwe gesê.

Die bakkie is tot stilstand gedwing en twee verdagtes wat agter op die bakkie was, het afgespring en in die veld in gevlug. “Drie mans wat voor in die bakkie gesit het, is in hegtenis geneem,” het sy bygevoeg.

Die polisie het beslag gelê op twee onwettige vuurwapens, ʼn selfoon, huisbraaktoerusting, handskoene, blou oorpakke en wors wat vermoedelik met gif besmet is om honde mee te vergiftig. “Die wors is vir toetse gestuur vir verdere ondersoek. Die vuurwapens is vir ballistiese toetse gestuur om te kyk of dit in ander voorvalle gebruik is.”

Van der Merwe het gesê die verdagtes word by die Boschkop-polisiestasie aangehou en profielondersoeke word gedoen om te bepaal of hulle by ander misdade in die gebied betrokke was. Die verdagtes gaan na verwagting Donderdag in die Cullinan-landdroshof verskyn.

Sy het gesê die voertuig wat die verdagtes gebruik het, is by ʼn adres in Mamelodi-Wes geregistreer.

Maroela Media het Dinsdag berig dat die gebied die afgelope ruk geteister is met verskeie aanvalle en moorde. Van der Merwe het gesê die polisie hoop om die verdagtes en onwettige wapens te verbind aan die vlaag aanvalle van die afgelope tyd.

Lees ook:
Nóg ʼn aanval op Boschkop-kleinhoewe
Mooiplaats-moorde: Niemand nog vas
Seun kom op ouers se liggame af
Kleinhoewe-aanval: Bejaarde vrou sterk aan
Bejaarde op kleinhoewe doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Robbie ·

Gee die wors vir hulle om te eet dan is die hele gemors agter die rug.

Carel ·

Dit is nogal snaaks dat op die eerste aand wat die mense self begin ondersoek ook sommer die skelms vang – dit wys jou dat die polisie daar nie hul werk gedoen het nie – dit is so jammer want in ander dele doen die polisie goeie werk?

Wat sou nou gebeur het as die skelems op die mense begin skiet het en die mense het terug geskiet? Dan sou die wettige mense weer in die moeilikheid gewees het omdat hulle hulself teen die skelems moes beskerm (skelems wat vry rond beweeg omdat die SAP in Boschkop nie omgee om eers die skelms te probeer vang nie? – Kyk SAP die mense van Boschkop het dit sommer met die eerste probeerslag reg gekry?).

Johann ·

Knap gedaan aan die gemeenskap van Boschkop! Dit is ‘n aansporing vir almal om hulle areas te beveilig en terug te neem van die skuim wat ons mense beroof en vermoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.