Boshof-brand: Nóg skade bevestig

Voerstore met voer wat besig is om te brand. (Foto: Verskaf)

Die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) van die Vrystaat het Dinsdag gesê nóg skade aan plase in die Boshof-omgewing is bevestig nadat ʼn verwoestende brand die naweek in dié gebied gewoed het.

Die brand, wat tot 70 000 ha grond verwoes het, het altesaam drie voerstore uitgewis en een kuilvoerberging het ook uitgebrand. Volgens die vereniging het drie skaapramme en 12 springbokke doodgebrand.

Twee huise het ook afgebrand. “Baie vee en wild is dood en vermink, maar die getalle is nog nie bekend nie. Dit is egter bevestig dat daar boere is wat tot 100% van hul weiding verloor het,” lui ʼn verklaring van FSUFPA.

Maroela Media het vroeër berig die brand het Saterdag omstreeks 13:30 sowat 4 km oos van Boshof op die R64 ontstaan. Volgens die vereniging het die uitermate hoë brandgevaartoestande veroorsaak dat die brand vinnig in ʼn noordoostelike rigting versprei het.

Die vlamme kon teen 20:00 in bedwang gebring word. FSUFPA het gesê volgens data wat van die AFIS-satelliet bekom is, het die 70 000 ha na raming binne ongeveer ses en ʼn half uur gebrand. “Dit kan verwerk word tot 10 769,23 ha per uur of 179,48 ha per minuut wat gebrand het. Die brand het ook teen 6,92 km/h vorentoe versprei – 115,3 m per minuut of 1,92 m per sekonde.”

Luidens die verklaring is die brand algeheel deur grondeienaars en lede van die brandbeskermingsvereniging (BBV) beveg sonder dat enige bykomende hulpbronne tot die stryd toegetree het. Die omvang van die skade kon nog nie volledig bepaal word nie aangesien die oppervlak wat geraak word baie uitgestrek is en volgens FSUFPA sowat 700 km² beslaan.

FSUFPA het gesê die syfers rakende die Boshof-brand dui op die erns van veldbrande in die Vrystaat en die omvang van die skade wat amper jaarliks aangerig word. Na raming het ongeveer 260 000 ha in die Vrystaat in 2017 gebrand.

Voerstore wat afbrand. (Foto: Verskaf)

Johann Breytenbach, algemene bestuurder van FSUFPA, het aan Maroela Media gesê die vereniging moedig die publiek aan om deur middel van finansiële bydraes die vervoerkoste van voer na die gebied te dek.

“Daar is twee punte waar voer deur skenkers afgelaai kan word. Ongelukkig is geen ander hulp verleen sover my wete strek nie,” het Breytenbach gesê.

“Die voorval is ook nog nie tot ramp verklaar nie. Rampbestuur het ʼn verslag aangevra, maar ons het dit nog nie gekry nie, so ons weet self nog nie wat die algehele omvang van die brandskade was nie. Ek het self op sosiale media ʼn klomp bewerings gesien van nog skade wat deur die brand aangerig is, maar ons as FSUFPA kan slegs inligting deurgee wat as feite geverifieer is.”

Instansies wat met die insameling van skenkings behulpsaam wil wees, kan ʼn e-pos stuur na info@fsufpa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Spiekeries ·

My simpatie aan al die boere wat skade gely het. Dit vat lank voordat dinge weer na normaal terugkeer.
Aan die verslaggewer: Grond kan nie brand nie, weiding of weiveld brand!

Hannelie ·

Dis baie baie sleg. Spiekeries “grond” kan brand. As die verslaggewer brand van grond, bedoel hy daar waar weiding of ‘n gewas groei. Die grond beteken niks na ‘n brand. Dit moet weer bemes word om weer reg te wees vir die volgende gewas om geplant te word.

Ella ·

Hierdie instansies het lang name en afkortings maar wat help dit as die boere self al die gevaarike werk doen sonder enige.hulp en bystand. My hart is seer vir SA se boere. Hulle kry “sleg” van alle kante. Waar kan mens geldelike bydraes maak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.