Boshof loop deur onder nóg ʼn brand

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die Boshof-streek in die Vrystaat het Maandag weer ʼn ernstige veldbrand beleef wat duisende hektaar weiveld verwoes het.

Die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) het gesê die brand het ongeveer 25 km buite Boshof gewoed en is vroegaand deur ongeveer 100 bakkiespuite van die plaaslike sowel as aangrensende brandverenigings in bedwang gebring.

“Volgens data wat van die AFIS-satelliet verkry is, het die brand ʼn voetspoor van nagenoeg 16 000 hektaar gelaat. Die oorsaak van die brand en die omvang van die skade moet nog vasgestel word, maar dit is bevestig dat daar landbouers is wat 100% verliese aan weiveld aangemeld het,” het FSUFPA in ʼn verklaring gesê.

FSUFPA het bygevoeg daar was ook ʼn brand in die Zastron-gebied wat deur lede van die Zastron- brandbeskermingsvereniging (BBV) onder beheer gebring is terwyl bykomende ondersteuning deur die Zastron Working on Fire (WoF)-span gelewer is.

“Die brandgevaartoestande in die westelike en suidelike gedeeltes van die Vrystaat bly uitermate hoog terwyl die risiko in die res van die provinsie vinnig besig is om toe te neem. Die toestande sal slegs verbeter indien daar binnekort wydverspreide reën in groot gebiede voorkom.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn verwoestende brand het ook verlede naweek in die Boshof-omgewing gewoed.

Die brand, wat tot 70 000 ha grond verwoes het, het altesaam drie voerstore uitgewis en een kuilvoerberging het ook uitgebrand. Volgens die vereniging het drie skaapramme en 12 springbokke doodgebrand. Twee huise het ook afgebrand.

Dié brand het 6 Januarie omstreeks 13:30 sowat 4 km oos van Boshof langs die R64 ontstaan.

“FSUFPA wil die publiek maan om versigtig en bedagsaam op te tree, terwyl grondeienaars in ag moet neem dat hulle aanspreeklik gehou kan word vir brande wat op eiendom onder hulle beheer ontstaan of daarvan af versprei.”

Die vereniging het gesê alle persone wat eiendom besit of daaroor beheer het, is daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat indien daar ʼn risiko van veldbrande bestaan hulle redelike voorsorgmaatreëls tref om brande te voorkom en te bestry. Die breër publiek moet ook in ag neem dat dit ʼn kriminele oortreding is om gedurende tye wanneer hoë brandgevaar heers oop vure te maak of om ʼn veldbrand deur nalatige optrede te veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ellisras ·

Ek is self ‘n Boer met ‘n voer stoor. My voer stoor is my lewensaar. My voer stoor kan en sal nie afbrand nie. Dit is nie eers nodig om brande rondom te blus nie. Ek hou dit skoon en ‘n brand vrye strook om die stoor. Dit werk al die laaste 30 jaar. Voorsorg is beter as trane agterna.

sjn ·

Jy is baie gelukkig en tref mooi voorsorg, daar is ongelukkig ander faktore wat soms die oorsaak is.

Ina Smith ·

Ek het vir die rookwolke gestaan en kyk van ons plaas af.Dit was eerlik hartseer om te dink aan al die diere en veld wat verbrand word ,’n sterk wind wat gewaai het en nou nog waai en dis bitter bitter droog.My hart gaan uit aan die wat skade gelei het asook voorverlede Saterdag se brande in die selfde omgewing wat meer as 35 boere geraak het ..

christa ·

ek dink die groot sonnebok is die rokers wat stompies langs die pad uitgooi. Soos hulle cellfone verbied agter ‘n stuur, so moet hulle rokery verbied agter die stuur. Almal wil rook maar wil nie die stinkgoed in hulle asbakkies he nie.

Jack Daniel ·

Ons gebede het met die boere en gemeenskap van die Boshof-streek.
Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.