Boshof-plaasmoord: Getuienisse aangehoor, verhoor duur voort

Ina en Sakkie van der Berg (Foto: Facebook)

Die vier verdagtes wat van die moord op Sakkie en Ina van den Berg verlede jaar beskuldig word, se verhoor het die afgelope week in die Bloemfonteinse hooggeregshof afgeskop en sal Maandag hervat.

Die egpaar is in Julie verlede jaar in hul huis op hul plaas buite Boshof in die Vrystaat vasgebind, aangerand en toe doodgeskiet. Sakkie was 67 jaar oud en Ina 62 jaar oud.

Johannes Sekgoro (41), Daniel Tsekiso Selwane (28), Kat Terrance Thami (34) en Sidasie Daniel Lephele (44) is kort ná die moorde in hegtenis geneem en staan nou tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord en gewapende roof.

Die beskuldigdes ontken skuld.

Verskeie getuienis is die afgelope week in die hof aangehoor, waaronder dié van die boere wat verlede jaar op die egpaar se liggame afgekom het, polisiebeamptes, forensiese deskundiges asook dié van hul dogter, Nicolene Pienaar.

“Daar is eintlik nie woorde nie, maar jy doen dit sodat geregtigheid kan geskied,” sê Pienaar.

Pienaar het spesifiek getuig oor die huishoudelike items wat gedurende die aanval gesteel en later in besit van die verdagtes teruggevind is. Pienaar moes sommige van die items uitken.

Ja, dit is nie maklik om jou ouers se vermeende moordenaars in die hof in die oë te kyk nie, erken Pienaar. “Daar is soveel emosies. Dán is jy kwaad, dán is jy weer orraait. ’n Mens probeer maar sterk bly sodat hulle nie loskom en dit moontlik weer aan iemand anders doen nie.

“Dit [die moord van geliefdes] verander jou lewe heeltemal en niks sal ooit dieselfde wees nie.”

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes het na bewering ná die moord op Sakkie en Ina met onder meer vuurwapens en die egpaar se motor op die vlug geslaan. Dié motor is later in modder in die Caledonrivierbedding op pad na Lesotho opgespoor.

Die beskuldigdes is kort daarna ná ’n voorlopige ondersoek onderskeidelik in Bloemfontein en Dealesville in hegtenis geneem.

Pienaar beskryf haar ouers “as die wonderlikste ouers ooit”.

Sakkie en Ina word oorleef deur drie dogters en vier kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maggies ·

Staan sterk Nicolene Pienaar. Ons hele volk staan saam met jou om geregtigheid te laat seëvier.

Elmarie ·

Lafaards wat in groep van 4, twee ouer mense aanval en dan ook nog altyd ontken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.