Boshof-plaasmoordenaars skuldig bevind

Ina en Sakkie van der Berg (Foto: Facebook)

Die vier verdagtes wat aangekla is van die moord op Sakkie en Ina van den Berg in 2019, is Maandag in die Bloemfonteinse hooggeregshof skuldig bevind.

Die Van den Berg-egpaar is in Julie 2019 in hul huis op hul plaas buite Boshof, Vrystaat, vasgebind, aangerand en toe doodgeskiet. Sakkie was 67 jaar oud en Ina 62 jaar oud.

Johannes Sekgoro (43), Thami Terence Kat (37), Leepile Daniel Sidasi (46) en Daniel Tsekiso Seloane (30) is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie van AfriForum, het Woensdag in die hof as deskundige getuie getuig ter verswaring van die beskuldigdes se vonnis. Roets is die afgelope tien jaar betrokke by AfriForum se veldtog teen plaasmoorde en het ook ’n boek oor dié onderwerp, Kill the Boer, in 2018 publiseer.

As getuie het Roets perspektief oor plaasmoorde gegee en waarom dit as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer moet word. Hy het ook gepraat oor die wyer gevolge en impak wat dit op die boerderygemeenskap het.

“In my getuienis het ek gefokus op die traumatiese impak wat plaasmoorde op die slagoffers het, maar ook die vrees wat dit onder ander boere kweek,” het Roets aan Maroela Media gesê.

“In teorie is plaasmoorde reeds ’n prioriteitsmisdaad. Die voormalige nasionale polisiekommissaris  Khomotso Phahlane en Bheki Cele het onderskeidelik in 2016 en in 2020 reeds gesê dit moet as ’n prioriteitsmisdaad beskou word. In praktyk is dit egter nog nie prioriteit nie. Dit is omdat daar nog nie gefokuste teenstrategieë van krag is nie en die toepaslike rolspelers vervul nog nie hul rol daarin om plaasmoorde te bekamp nie.”

Roets het in die hof gevra die regter moet ag slaan op sy getuienis, sodat die skuldiges die swaarste straf moontlik opgelê kan word.

Die vier beskuldigdes sal na verwagting Vrydag gevonnis word.

“Ons hoop hierdie hofsaak stuur ’n boodskap aan ander plaasmoordenaars sodat hulle twee keer dink voordat hulle die misdaad pleeg.”

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes het glo ná die moord op Sakkie en Ina met onder meer vuurwapens en die egpaar se motor op die vlug geslaan. Dié motor is later in modder in die bedding van die Caledonrivier op pad na Lesotho opgespoor.

Die mans is kort daarna onderskeidelik in Bloemfontein en Dealesville in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

ES ·

Ek hoop hulle vrot in die tronk vir hulle wrede dade. Om twee weerlose ou mense vir niks dood te maak nie.

Pietertjie ·

Verder betaal die belastingbetalers vir die moordenaars se onderhoud en verblyf, totdat hulle op parool vrygelaat word. Dan gaan hulle moontlik weer op hulle gewone manier “oorleef”.

domheks ·

kom ons kyk wat is hulle straf! Seker net ‘n paar jaar dan is hulle vry..

Di ·

Geregtigheid sal geskied – hopp ook dat hulle tronk lewe ‘n lewende hel sal wees.

Pieter ·

Sal oor n jaar weer uit wees op parool die land se regstelsel is n grap

Renier johannes ·

Bring die dood straf terug en hou op kla die tronke is vol

Swerwer ·

Genade, 2,5 jaar later! Dankie Mnr Roets vir jou bydra, dit word waardeer. Khomotso Phahlane en Bheki Cele mag wel gesê het dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad geklassifiseer word maar dit was net om die monde te stil, daar is nog nie ‘n vinger verroer om die wel te implementeer nie. Hoed sal ook nie, want dit druis in teen die ANC se beleid.

Charl ·

Ernst, die toepaslike rolspelers (regering & kie) het geen behae daarin om enige rol in hierdie verband te vervul nie, in woorde keur hulle dit dalk nie goed maar in dade verdoem hulle dit ook nie, Jy se dit self,phahlane en cele, 2016 & 2020, plaasmoorde volgens hulle ‘n prioriteitsmisdaad ?? Asseblief, dis ‘n kwessie van praat baie maar se niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.