Boshof-plaasmoordenaars swaar gestraf

Ina en Sakkie van der Berg (Foto: Facebook)

Die vier mans wat vroeër vandeesweek skuldig bevind is aan die moord op Sakkie en Ina van den Berg van Boshof in die Vrystaat, is Vrydag elkeen twee lewenslange vonnisse opgelê.

Die egpaar se dogter Nicolene Pienaar sê sy is tevrede met hul straf.

“Dit is wat hulle verdien.”

Pienaar se ouers is in Julie 2019 in hul plaashuis buite Boshof vasgebind, aangerand en toe doodgeskiet. Sakkie was 67 jaar oud en Ina 62 jaar oud.

Johannes Sekgoro (43), Thami Terence Kat (37), Leepile Daniel Sidasi (46) en Daniel Tsekiso Seloane (30) is vroeër vandag elkeen tot twee keer lewenslange tronkstraf in die Bloemfonteinse hooggeregshof gevonnis vir hul aandeel in die moorde.

Kat is op sy beurt nog 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy Maandag skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede sowel as nog 15 jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en 13 jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Sekgoro, Sidasi en Seloane is elkeen nog 15 jaar tronkstraf op aanklag van roof met verswarende omstandighede opgelê.

Seloane is ook tot nog 15 jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en 15 jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie gevonnis.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Pienaar sê sy is verlig dat haar ouers se moordenaars eindelik boet. “Dit was ’n lang twee en ’n half jaar net om hulle uit die samelewing te kry. Dit sal nooit my ouers terugbring nie, maar ek is dankbaar dat hulle vas is en dat dít dalk iemand anders se ouers of kind sal spaar.”

Pienaar vertel aan Maroela Media dat die hofsaak en die talle uitstelle uitmergelend was. “Dit was maar baie uitputtend – om elke keer agter hulle te moet sit en na hulle te kyk. Dit was asof jy dit elke keer moes herleef wat gebeur het.”

Maroela Media het vroeër berig die mans het ná die moord op Sakkie en Ina met onder meer vuurwapens en die egpaar se motor op die vlug geslaan. Dié motor is later in modder in die bedding van die Caledonrivier op pad na Lesotho opgespoor.

Die mans is kort daarna onderskeidelik in Bloemfontein en Dealesville in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willempie ·

Hierdie klug van gelyklopende vonnisse moet gestaak word. Die misdadigers het rlkeen meer as een oortreding brgaan. So die veroordeeldes moet dus vir elke oortreding afsonderlik gestraf word As my rekenkunde korrek is , is 20 jaar + 15 jaar + 12 jaar = 47 jaar totaal . Straf die skuldiges SO !!!!

Karlahari ·

En dan word parool uitgewerk op die saam geflanste vonnis en nie op die totaal nie.
In sulke gevalle moet die regter dan eerder beslis gelyklopend maar GEEN borgtog.

JohanR ·

En die EFF wat dit gereel het, en die ANC wat die geld gegee het en die taxi wat hulle na die plaas vervoer het? Ja ANC en EFF julle dink ons is dom!

Frikkels ·

Ja, dis swaar strawwe wat die vonnis meegebring het, maar hoekom die vonisse gelyklopend uitgedien moet word sal vir my altyd ñ raaisel bly. Die regter kon maar net gesê het, 25 jaar hardepad, en hulle kom oor 3 jaar in aanmerking vir parool!

Samuel ·

Hulle kom in elkgeval na paar jaar weer uit op parool om verder te moor, plunder en verkrag.

Blomme ·

En tog hou die plaasmoorde nie op nie. Die tronkstraf skrik nie die skurke af nie. Dis dan lekker lewe in die tronk. Geen plan van aksie vd regering om die plaas geweld te stop nie. Praat van SWAK regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.